|

Vrystaatse leerders beïndruk in streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie

Die Vrystaatse streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie het gister (21 Augustus) vir naelbyt-eindstryde in die junior en senior afdelings gesorg. Die deelnemers het met hul redenasies, asook spitsvondigheid beïndruk en die beoordelaars moes diep dink om die wenspanne aan te wys. Dit was die vyfde en voorlaaste streeksuitdun in vanjaar se kompetisie. C & N Sekondêre Meisieskool Oranje was andermaal die gasheerskool vir hierdie uitdun.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het die span “Raakpraters” se Miné Truter, Bokamoso Matlakala en Nina Bloem van Oranje as wenners uit die stryd getree, met “Woordewapens” se Joah de Villiers, Hannes Deacon en Dirk Deacon van Hoërskool Jim Fouché as naaswenners.

In die senior kategorie was Josh Faber, Christiaan van Aardt en Hanco Cilliers van Hoërskool Sentraal se span “Sentraal 1” die wenners, met Lisa Botha, Jaco Deysel en Amoné Verwey van Hoërskool Jim Fouché se “Aanvallende Anties (en ’n oom)” in die tweede plek.

Vanjaar se kompetisie is besonder goed ondersteun, met 11 spanne wat in die junior afdeling deelgeneem het, en 21 in die senior afdeling. Die skole wat deelgeneem het, was Hoërskool Voortrekker, Hoërskool Reitz, Hoërskool Trio, Grey Kollege Sekondêr, Hoërskool Jim Fouché, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Sentraal en natuurlik C & N Sekondêre Meisieskool Oranje. Die spanne het oorspronklike name gekies, byvoorbeeld “Die Babbelbende”, “Woordmoord” en “Kletskampioene”.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die uitdunne deur die dag, asook die finaal gekenmerk deur debatte van die hoogste gehalte. “Debat is ’n sleutelvaardigheid wat leerders onder meer bemagtig tydens hul skoolloopbaan, universiteitstudies en in enige werksomgewing. Die kompetisie is vir AfriForum van kernbelang, omdat ons wil verseker dat die jeug ingelig oor aktuele sake moet bly en op hul voete daaroor moet kan standpunt inneem,” sê sy.

Bailey betuig namens AfriForum dank teenoor al die betrokke leerders vir hul entoesiastiese deelname en teenoor C & N Sekondêre Meisieskool Oranje vir vanjaar se uitnemende aanbieding en gasvryheid. “Dit is inspirerend om te sien hoe die kompetisie jaarliks groei. Ons sien uit na die nasionale finaal wat vanjaar op 27 September in Centurion sal plaasvind,” voeg sy by.

Soortgelyke plasings