|

Vryburg-tak laat nie gras onder hulle voete groei nie

AfriForum se Vryburg-tak is deurlopend besig met volhoubare projekte wat daarop gemik is om dié dorp netjies te maak. Dié tak het gedurende Maart onder meer die gras gesny by die parkie en Roydenstraat ná talle gemeenskapslede gekla het oor die toestand van hierdie parkie en die kommer uitgespreek het dat hierdie parkie deur misdadigers gebruik kan word as wegkruipplek. Die tak het ook die oop velde langs die ingang van die dorp se gras gesny sodat dit netjies kan vertoon wanneer mense die dorp binnekom.

Die parkie in Roydenstraat word daagliks deur voetgangers en skoliere gebruik, juis daarom het die tak die gemeenskap se klagtes ter harte geneem en onmiddellik ingespring om hierdie parkie skoon te maak.

Dié AfriForum-tak het reeds vroeg in die jaar al begin met verskeie skoonmaakprojekte waar onder die skoonmaak en sny van gras by sewe leë erwe en oop velde lans die ingang van die dorp. Die tak hou ook deurlopend die Konsentrasiekampbegraafplaas in stand.

“Die AfriForum-tak in Vryburg is hard aan die werk om moontlike wegkruipplekke vir misdadigers te verminder.  Leë erwe hou veral ’n veiligheidsrisiko in aangesien misdadigers dié erwe gebruik as ingangs- en uitgangsroetes tydens huisbrake. As ons die leë erwe se gras kan kort hou het ons beter sigbaarheid in woongebiede wanneer die buurtwagte patrollies ry,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die tak het reeds ’n rits planne vir die jaar wat voorlê, waar onder opleiding vir die buurtwaglede, selfverdedigingsopleiding vir die gemeenskap en ook nog verdere skoonmaakprojekte.

Die Vryburg-tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om aan te sluit by AfriForum om meer projekte soos hierdie moontlik te maak. Sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings