|

Venter-plaasmoord: Saak oorgeplaas na Hooggeregshof; beskuldigdes bly agter tralies

Die saak van die vermoorde 81-jarige Hendrik Venter is nou nog ’n tree nader aan geregtigheid nadat die Landdroshof op Kuruman vandag beslis het dat dié saak na die rondgaande Hooggeregshof op Kathu oorgeplaas moet word. AfriForum verwelkom hierdie kritieke verwikkeling wat daarop wys dat die staat die erns van dié misdaad insien deur dit na ’n hoër hof te verwys. Voorts is AfriForum optimisties dat die oorplasing, in die geval van die skuldigbevinding van die beskuldigdes, tot ’n swaarder vonnis sal lei. Venter, ’n veeboer van Kuruman, is in September op sy plaas vermoor.

Potso Bogodile (21), Jan Tata (18), Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) – die beskuldigdes in die saak – het tydens vandag se verrigtinge deur hul regsverteenwoordiger beswaar aangeteken teen die wyse waarop hulle voor die hof gebring is. Hulle hou vol dat hul arrestasie onregmatig is. Die hof het egter hul besware van die hand gewys. AfriForum verwelkom dié besluit. Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger het egter intussen aangedui dat hulle teen die besluit sal appelleer.   

Dié beskuldigdes is kort ná die moord op Venter die eerste keer in hegtenis geneem. Hulle is egter kort na dié arrestasie vrygelaat omdat daar in daardie stadium nog nie genoeg bewyse was om hulle met die aanval te verbind nie. Die saak is op 10 April van die hofrol verwyder vir verdere ondersoek, wat AfriForum as ’n ernstige regsdwaling beskou. In ’n formele brief op 12 Junie aan Daniel Phiri, senior staatsaanklaer van die Kuruman-landdroshof, het AfriForum ernstige kommer uitgespreek oor die hantering van die saak en die gevolglike vrylating van die beskuldigdes. Die burgerregteorganisasie het versoek dat die saak sonder verwyl heringeskryf word en dat dit na die Hooggeregshof oorgeplaas word.

In sy reaksie op die brief het adv. JJ Cloete van die NVG op 22 Junie bevestig dat die saak nie van die rol verwyder is weens versuim van die vervolgingsgesag nie, maar omdat die hof geweier het om verdere uitstel toe te staan. Cloete het verduidelik dat die vervolging se herinstelling afhanklik is van DNS-bewyse wat tans deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se forensiese eenheid verwerk word. Hy het ook bevestig dat – sou die bewyse dit regverdig – die saak na die Hooggeregshof verwys sal word en dat ’n klagstaat reeds voorberei is.

Die verdagtes is op 29 Julie vir ’n tweede keer in hegtenis geneem ná volgehoue druk van AfriForum en ander rolspelers. Hierdie herarrestasie volg op ’n langdurige en intensiewe proses van openbare druk, regsintervensies en kommunikasie met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Volgens Thomas van Dalen, streekshoof van AfriForum in die Noord-Kaap, dui die verloop van sake op diepgaande sistemiese probleme. “Dit is onaanvaarbaar dat moordbeskuldigdes vrygelaat word weens administratiewe tekortkominge en die gebrek aan gereedheid van die staat se meganismes. Die feit dat hierdie proses uitsluitlik op AfriForum en die gemeenskap se volgehoue druk heraktiveer is, is ’n aanklag teen die stelsel self.”

Van Dalen beskryf egter die vordering wat vandag in dié saak gemaak is as ’n oorwinning. “Ons is bly dat die staat hul kant van die verbintenis nagekom het. Dit is bemoedigend om te sien dat geregtigheid uiteindelik kan seëvier en ons sal nie swyg of padgee totdat dit gebeur nie. Hierdie saak moet ’n toetssteen wees vir hoe ernstig die staat plaasmoorde opneem,” sê Van Dalen.

AfriForum speel sedert 4 Oktober 2024 ’n aktiewe rol in die regsproses. Ná hul bywoning van die aanvanklike hofverskyning het die organisasie opleiding in plaasveiligheid in Hotazel aangebied. AfriForum het ook voortdurend kommunikasie met die NVG, die SAPD en gemeenskapslede gehandhaaf.

Op 2 Junie het AfriForum ’n dringende vergadering saam met ander rolspelers gehou om die regsonsekerheid te bespreek. Teen 30 Julie was die saak weer op die hofrol. Die beskuldigdes het Maandag 4 Augustus weer in die hof verskyn met die verrigtinge wat tot vandag uitgestel is. Die saak is geskeduleer om op 27 Oktober in die Hooggeregshof aangehoor te word. Die beskuldigdes bly intussen in aanhouding.

AfriForum sal voortgaan om die hofsaak dop te hou en die publiek op hoogte te bring van elke verwikkeling in die saak. Die Venter-familie en die groter landbougemeenskap, verdien niks minder as geregtigheid nie.

Soortgelyke plasings