Vanderbijlpark-substasies nou al drie jaar veilig danksy AfriForum-tak
AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die afgelope drie jaar in samewerking met Sekuriteit Sonder Grense gewerk om ses substasies te beveilig en sodoende te verseker dat die gemeenskap nie weens diefstal sonder krag sal sit nie. Dié tak het onder meer die substasies met alarmstelsels toegerus wat deur Sekuriteit Sonder Grense gemoniteer word – daar word beoog om nóg substasies in die omgewing op hierdie wyse te beveilig.
AfriForum se strukture landswyd werk hard om infrastruktuur te beveilig ten einde totale verval en agteruitgang teen te werk. Die substasies in Vanderbijlpark het gereeld onder kabeldiefstal deurgeloop wat daartoe gelei het dat die gemeenskap soms vir dae lank sonder krag gesit het. Die alarmstelsels het oor die afgelope drie jaar ’n reuserol gespeel om sabotasie en kabeldiefstal by hierdie substasies te verhoed.
Die tak het ook die transformator op die hoek van Da Vinci- en Moerdykstraat beveilig ná dit oopgelos is aangesien dit te groot was om in die mini-substasiekas te pas en bo-op die kas geinstalleer is. Die tak het die transformator omhein om te verhoed dat kinders of ander individue aan die transformator peuter en seerkry.
Die substasie in Carpentierstraat is ook deur die Vanderbijlpark-tak beveilig. Die tak het die deure hier vervang en die substasie omhein, Sekuriteit Sonder Grense het ook die alarmstelsel herstel wat nou deur hulle gemoniteer sal word.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek, het dit noodsaaklik geword vir organisasies soos AfriForum en die gemeenskap om saam om te sien na die beveiliging van infrastruktuur in hulle omgewing. “Ongelukkig wil dit voorkom of munisipaliteite nie oor die vaardighede of kennis beskik om infrastruktuur soos substasies ordentlik te beveilig nie. Ons kan nie net hande gevou sit en wag vir die munisipaliteite om ’n verantwoordelikheidsbesef te ontwikkel nie, ons moet iets doen anders gaan daar niks meer oorbly nie.”
Gemeenskapslede wat by hierdie aktiewe tak wil aansluit, kan ’n e-pos stuur na vanderbijlpark@afriforumtak.co.za.