|

Vanderbijlpark benodig dringend wettige stortingsterrein, sê AfriForum

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het vandeesweek ’n dringende skrywe aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin daar versoek is dat onmiddellike aandag gegee word aan die gebrek aan wettige en toeganklike stortingsterreine en oordragstasies in dié munisipale gebied.

Tans bestaan daar geen amptelik erkende of toeganklike stortingsterrein in die Emfuleni-munisipaliteit nie. Die naaste wettige terrein is sowat 45 buite die munisipale gebied geleë, wat ’n onredelike logistieke en finansiële las op inwoners en ondernemings plaas. Hierdie tekort aan basiese infrastruktuur lei tot ’n skerp toename in onwettige storting in woonbuurte, op openbare grond en langs paaie, met ernstige gevolge vir openbare gesondheid, veiligheid en die omgewing.

AfriForum het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om ’n aksieplan saam te stel vir die oprigting van wettige stortingsterreine of oordragstasies in die munisipale gebied, asook spesifieke ingrypings bekend te maak om die huidige onwettige stortingskrisis proaktief te pak terwyl ’n permanente oplossing ontwikkel word.

 “AfriForum beywer om ’n veilige en skoon omgewing te kweek, daarom is die burgerregteorganisasie bereid om saam met die munisipaliteit te werk om praktiese oplossings vir dié probleem te vind. Daar word egter steeds van die munisipaliteit verwag om hulle grondwetlike en wetlike verpligtinge na te kom,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek.

AfriForum het die munisipaliteit 14 dae gegee om op sy skrywe te reageer en daadwerklik op te tree, anders sal die burgerregteorganisasie verdere regstappe oorweeg en die saak by die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing aanmeld.

Soortgelyke plasings