Valke-ondersoek is blote intimidasie-truuk – AfriForum

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)

Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

Die Valke se voortgesette ondersoek na die verregaande klagtes van hoogverraad teen AfriForum is niks anders nie as ’n poging om AfriForum te intimideer en om dié organisasie, asook ander wat die ANC-geleide regering se roekelose beleidsrigtings teenstaan, tot stilswye te dwing. Die burgerregteorganisasie se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, voer aan dat pogings soos dié daarop gemik is om alternatiewe stemme stil te maak en dat dit kenmerkend is van onderdrukkende regimes wat met mening in Suid-Afrika teengestaan moet word.

Kriel se reaksie volg op die Valke-hoof, Godfrey Lebeya, se aankondiging dat die eenheid steeds besig is met hul ondersoek AfriForum ná klagtes van hoogverraad vroeg in Februarie aanhangig gemaak is.

“AfriForum sal nie deur intimidasie tot stilswye gedwing word nie,” benadruk Kriel. “Inteendeel, hierdie poging dien as motivering vir AfriForum om, saam met ons kollegas in die Solidariteit Beweging, voort te gaan om die ANC se roekelose beleid en menseregteskendings in Suid-Afrika teen te staan. Dit word gedoen in belang van die mense van hierdie land.”

Hy hou vol dat AfriForum sal voortgaan om menseregteskendings, soos die implementering van die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) wat die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe bedreig, en oproepe tot geweld teen Afrikaners soos deur die gebruik van slagspreuke soos “Kill the Boer”, teen te staan. Indien plaaslike verset daarteen egter nie vrugte afwerp nie, is die organisasie vasbeslote om dit op ’n internasionale vlak te beveg.

“Om met president Donald Trump se administrasie of enige ander regering in gesprek te tree, is nie hoogverraad nie. Dit is ’n uitoefening van ’n demokratiese reg om internasionale steun te werf vir die beskerming van menseregte in Suid-Afrika, in belang van ’n gemeenskap en sy mense,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings