|

Upington-tak rig nóg ’n waarskuwingsteken op ná vragmotors steeds teen brug bots

Die lae treinbrug in Schroderstraat op die N14 in Upington het oor die jare heen verskeie ongelukke tot gevolg gehad weens te hoë vragmotors wat onderdeur die brug probeer ry. Die gereelde gebeurtenis het die gemeenskap raadop, maar AfriForum se Upington-tak het die afgelope week weer ingespring om die brug te help beveilig.

AfriForum se plaaslike tak het verlede week ’n 2 m by 1,2 m -padteken laat restoureer wat deur die son gebleik was. Dié bord is op pad dorp toe sowat 500 m voor die treinbrug opgerig om vragmotorbestuurders te waarsku oor die lae brug en hul nog kans te gee om ’n alternatiewe pad te vat. Die bord is met behulp van Rhino Security opgerig.

Die AfriForum-tak het reeds in 2022 ’n 9 m lange bord laat maak – wat die tak duisende rande gekos het – wat vragmotorbestuurders duidelik waarsku om nie onderdeur die brug te ry nie. Die bord het grootliks die probleem opgelos, maar tog is daar steeds vragmotorbestuurders wat nie op padtekens ag slaan nie.

Die treinbrug is net 3,3 m hoog, wat beteken dat die meeste vragmotors wat deur Upington ry, nie onderdeur kan gaan nie. Talle het dit egter al probeer en ernstige ongelukke veroorsaak. Nie net word die brug beskadig nie, maar sommige vragmotors slaan boonop om en blokkeer een van die belangrikste ingange tot die dorp.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê die teervlak onderdeur die brug kan nie gesak word nie omdat daar ’n hoof rioollyn onderdeur loop. Die brug kan ook nie hoër gemaak word nie, omdat daar steeds daagliks treine is wat van die spoor gebruik maak.

“Dit is van kardinale belang dat hierdie brug nie ineenstort nie, daarom doen AfriForum ’n beroep op die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit om dringend te help om die treinbrug te beveilig,” sê Strauss. “Die treinbrug het al baie skade opgedoen, daarom sal daar dringend iets gedoen moet word om lewensverliese te voorkom.”

AfriForum se Upington-tak bly daartoe verbind om die gemeenskap te dien en te beveilig. Besoek www.wordlid.co.za om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak.

Soortgelyke plasings