|

Unisa skors nóg ’n amptenaar wat vrae het oor finansiële onreëlmatighede

In ’n poging om misdadigheid en die skuldiges te beskerm het Unisa nou nóg ’n senior bestuurslid in dié instelling se finansiële departement geskors. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou ook vir Donald Ndlovu, Unisa se direkteur van uitgawes en batebestuur, wat aan die einde van April as voorsorg maatreël geskors is. Ndlovu word daarvan beskuldig dat hy inligting aan ’n “derde party”, glo ’n joernalis, verskaf het – ’n ongegronde bewering wat hy ten sterkste ontken.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig sedert April verlede jaar vir dr Reshma Mathura, Unisa se waarnemende uitvoerende finansiële beampte. Ten spyte daarvan dat sy al vir meer as ’n jaar geskors is duur die dissiplinêre proses voort. Verskeie ondersoeke na Mathura se optrede het haar gevrywaar van bewerings dat sy onwettige betalings van studente ontvang het. Die privaatvervolgingseenheid vermoed dat sy geskors is vir haar rol in die onthulling van korrupsie en dat sy saam met die Valke gewerk het tydens hulle ondersoek van finansiële wanpraktyke by die instelling.

In ’n skrywe aan Unisa se senior bestuur het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die stappe teen Ndlovu beskryf as ’n amateuragtige poging om finansiële wandade te probeer verbloem. Volgens Nel is die ooreenkomste tussen Ndlovu en Mathura se skorsings van só aard dat die privaatvervolgingseenheid nie anders kan as om dit te beskou as ’n manier om diegene wat onreëlmatighede en moontlike kriminaliteit in die bestuur van Unisa se fondse bevraagteken, stil te hou nie.

“Die pogings om diegene by Unisa wat nog integriteit het en verstaan wat van hulle verwag word in die bestuur van die instansie se finansies stil te maak sal nie slaag nie en sal uiteindelik blootgelê word,” sê Nel.

Die bewerings van wandade teen Ndlovu hou na bewering verband met die uitlek van inligting oor die universiteit se onverklaarbare uitgawe van R500 000 verlede jaar vir 10 senior Unisa-amptenare om ’n ANC-galadinee in Kaapstad by te woon.

Nel het voorts die bestuur gevra vir meer inligting oor hierdie bewering en sê dat die privaatvervolgingseenheid sy eie teorie het oor waarom Ndlovu geskors is. Die privaatvervolgingseenheid versoek dat meer besonderhede en die bewyse wat die drastiese stap teen Ndlovu staaf, aan hulle verskaf moet word.

Soortgelyke plasings