|

Twee uit twee vir Mosel-buurtwag ná twee arrestasies in twee dae

Die vinnige reaksie van AfriForum se Mosel-buurtwag in Kariega het daartoe gelei dat twee verdagtes binne twee dae vir twee onderskeie inbrake gearresteer is.

Die Mosel-buurtwag het Maandag 13 April om 15:00 op ’n boodskap van ’n huisbraak op die Mosel-noodgroep gereageer. Met hul aankoms op die toneel het die verdagte reeds gevlug en is daar verneem dat twee skootrekenaars, oorfone en ander kleiner items vermis word. Een van AfriForum se patrolleerders het gereageer op inligting en ’n beskrywing van die verdagte, wat van die huiseienaar ontvang is, en onmiddellik na die Intercape-bushalte gehaas. Die vermoede was dat die verdagte ’n bus na Johannesburg sou haal. Die AfriForum-patrolleerder het ’n verdagte geïdentifiseer en onmiddellik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gekontak wat binne vyf minute daar was. Die verdagte se bagasie is deursoek en al die gesteelde items is daarin gevind. Die verdagte is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

Die volgende dag, Dinsdag 14 April om 09:00, het patrolleerders van die Mosel-buurtwag op ’n noodroep van ’n vrou gereageer dat daar ’n ongemagtigde persoon in haar erf in Harperstraat is. Vyf voertuie het gereageer en ’n verdagte is met ’n sak vol gesteelde items van die inwoner aangekeer. Die SAPD is na die toneel ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem.

Tydens kruisondervraging, was dit baie duidelik dat die verdagte die eiendom vir ’n lang tyd dopgehou het en bekend was met die inwoners se roetine, asook hul voertuie. Die huiseienaar het ook genoem dat sy die man gereeld in haar straat gesien het, maar niks verdag vermoed het nie.

Luidens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap, moet hierdie voorval ’n les wees vir alle inwoners. “Skelms hou jou bewegings daagliks dop, daarom is dit belangrik om soms af te wyk van daaglikse roetines, byvoorbeeld gaan soms huis toe tydens jou etensuur, ry ’n ander roete en let op na die mense wat in jou buurt rondloop. Die verdagte wat in hierdie voorval aangekeer is, was ’n ouer man, wat op die oog af nie soos ’n bedreiging lyk nie maar waarskynlik iemand is vir wie jy kos sou gee. Ons kan ongelukkig geen vreemdelinge vertrou nie,” sê Van der Vyver.

Van der Vyver het ook sy dank uitgespreek aan die lede van AfriForum se Mosel-buurtwag, wat vrywillig hul eie tyd opoffer om die gemeenskap te dien.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurt- of -plaaswag aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings