|

Treurende ma bekommerd dat sokkerster moontlik voorkeurbehandeling kry ná noodlottige botsing

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)
Klankgreep: Keo Mavimbela (Engels)
Waarskuwing: Hierdie beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.

Die ma van die nege-jarige Gomolemo Mavimbela, wat in ’n botsing omgekom het wat na bewering deur ’n professionele sokkerspeler veroorsaak is, het haar nou tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend uit kommer dat die beskuldigde voorkeurbehandeling ontvang. Gomolemo is op 30 Oktober 2024 dood toe Shaune Mogaila se voertuig met dié van haar ma, Keo Mavimbela, gebots het op Andrew Mapheto-weg in Tembisa. Thando Khethiwa, die seun van Mavimbela se vriendin, is ook gedurende dié botsing kritiek gewond. Die Sekhukhune United-vleuel het na bewering van die toneel gevlug, maar homself later aan die polisie oorhandig. Hy is borg van R20 000 toegestaan. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig ook vir Carol Khethiwa, Thando se ma, in hierdie saak.

Die Ekurhuleni-metropolisie het gesê dat gebreekte drankbottels en ’n wit poeier – vermoedelik kokaïne – in die BMW M2 gevind is. Ten spyte daarvan en ten spyte van beeldmateriaal van die botsing, word die saak steeds uitgestel vir verdere ondersoek.

Volgens Mavimbela soek sy net geregtigheid. “Ek het AfriForum genader omdat dit vir my voel asof daar nie vordering in hierdie saak is nie. Dit voel asof daar die hele tyd ’n heen en weer is. Al wat ek soek is geregtigheid, maar soos dinge nou gaan het ek geen hoop nie want die saak is uitgestel sonder ’n verhoor. Dit is altyd net ondersoeke, ondersoeke gebaseer op dieselfde rede – bloedtoetse. Ek hoop dat AfriForum my kan help om geregtigheid vir my dogter, myself en vir Thando te kry.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in korrespondensie aan die stasiebevelvoerder van die Rabierif-SAPD, gevra wat die huidige stand van die ondersoek is oor dié saak. Volgens Nel blyk dit uit die privaatvervolgingseenheid se ervaring dat die SAPD nie oor die vaardighede beskik om sake van strafbare manslag te ondersoek nie óf dié sake as minder belangrik beskou. Gevolglik word daar nie veel gedoen om vertragings ten opsigte van die verkryging van bloed-alkohol uitslae uit die weg te ruim nie, wat veroorsaak dat sake sloer totdat dit uiteindelik van die rol geskrap word.

Nel meen dat die trauma wat veroorsaak word as gevolg van hierdie sake wat sloer ongesond is vir slagoffers. Daarom het Nel ook die hulp van die privaatvervolgingseenheid en hul kliënt aangebied om te verseker dat die saak sonder verdere oponthoud finaliteit kan bereik.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê dat Keo en haar familie nie net die emosionele las dra nie, maar ook die fisieke en finansiële las. “Keo loop mank as gevolg van verskeie operasies wat sy ná die botsing, wat haar dogter se lewe geëis het, moes ondergaan. Dít terwyl die sokkerspeler in die ander voertuig gemaklik op die veld kan draf. Ons is saam met Keo bekommerd dat Mogaila moontlik voorkeurbehandeling ontvang weens sy status as sokkerspeler. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis gestig om te verseker dat almal gelyk behandel word voor die reg, ongeag hul politieke of sosiale status.”

“Ons hoor gereeld van owerhede dat hulle kwansuis ’n geen-verdraagsaamheid beleid het jeens spoed of dronkbestuur . Hierdie ywer verdwyn egter wanneer iemand wat na bewering dronk is,  jaag en dan ’n botsing veroorsaak wat mense hul lewens kos. Uit ervaring weet ons dat wanneer só saak aangemeld word, dit jare neem om ondersoek te word en dat daar eindelose vertragings is met die rekonstruksie van die toneel of die uitslae van bloedtoetse. Sommige sake word later van die rol geskrap weens ’n versuim om die ondersoek af te handel. Ons sal nie toelaat dat dit met hierdie saak gebeur nie en sal toesien dat geregtigheid vir Keo en haar familie geskied,” sê Bateman.

Die saak sal weer op 16 September in die Tembisa-landdroshof aangehoor word.

Soortgelyke plasings