Toestand van Emthanjeni se vullisterreine bedreig selfs waterbronne in Noord-Kaap
Die vullisterreine in De Aar, Britstown en Hanover – wat almal onder die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit val – is in ’n haglike toestand. Benewens die gebrek aan dienslewering in hierdie drie dorpe blyk dit nou ook dat die vullisterreine nie na wense bestuur word nie. AfriForum het besoek afgelê by hierdie vullisterreine as deel van die organisasie se jaarlikse vullisterreinoudit.
Van die probleme by hierdie vullisterreine is ’n gebrek aan borde wat aandui dat dit wel ’n vullisterrein is en die paaie is in só slegte toestand dit byna ontoeganklik is. Daarbenewens is daar geen sekuriteitsbeamptes of beheer oor wat by die vullisterrein gestort mag word of nie. Voorts is daar ook mense wat op die vullisterrein woon.
Dit is ook ’n wesenlike probleem dat daar tot dusver geen sprake of bewyse is van ’n padskraper of enige swaar voertuig wat die verskuiwing van die vullis of die samepersing daarvan kan laat geskied op een van hierdie vullisterreine nie.
Die vullisterreine is nie behoorlik omhein nie en vullis waar die wêreld vol. Verder word daar ook enigiets van diere se karkaste tot buitebande hier gestort. Van die mense wat hier woon steek ook gereeld vullis aan die brand wat die risiko vir weghol veldbrande verhoog. Die toestand van hierdie vullisterreine bedreig ook tot ’n mate die dorpe se drinkwater aangesien sommige van die boorgate wat dié dorpe van water voorsien in die omgewing van die vullisterreine is.
Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, moet daar dringend opgetree word om die vullisterreine reg te ruk. “Ons kan eenvoudig nie bekostig dat ons gemeenskappe onder die swak bestuur van vullisterreine deurloop nie. Hierdie terreine moet beter bestuur en beveilig word ten einde onwettige stortings te verhoed.”