|

Theewaterskloof-tak en gemeenskap span saam om Skoolstraat op te knap

AfriForum se Theewaterskloof-tak het in Maart, as deel van hulle gemeenskapsverkeersveiligheidsprojek, die slaggate in Skoolstraat in Botrivier herstel. Meer as 5 ton teermengsel is gebruik vir hierdie projek. Die organisasie se  gemeenskapsverkeersveiligheidsprojek word landswyd aangepak om padveiligheid te verbeter en verwaarloosde infrastruktuur te herstel.

Die Theewaterskloof-tak is in Oktober verlede jaar gestig en het reeds ’n groot impak in hul omgewing gemaak. Die herstel van die slaggate in Skoolstraat kom ná die gemeenskap reeds sowat vyf jaar gelede die Theewaterskloof Plaaslike Munisipaliteit gewaarsku dat hierdie straat dringende aandag kort ten einde te verhoed dat die pad heeltemal ontoegangbaar raak. Die gemeenskap het onder meer aanbeveel dat die straat ’n seëllaag moet kry en hoewel die munisipaliteit aanvanklik ’n gedeelte van die pad herstel het, het daar nog niks verder gebeur nie. Die munisipaliteit het onderneem dat dié straat teen Junie 2021 ten volle herstel sou wees.

Juis daarom het die Theewaterskloof-tak saam met die gemeenskap gespan om self hand aan die ploeg te slaan eerder as om skouers op te trek vir die munisipaliteit se tekortkominge. John Carlile, ondervoorsitter van die Theewaterskloof-tak het die voortou geneem met dié projek waarna die res van die tak, ander instansies en lede van die gemeenskap ingespring het om te help. Die tak bedank graag Easy Living, Botrivier Landgoed, Ebrahim Kahn, Pammy Coetzee, Jan Visagie, John Ferreira, Tiaan Visser en Linda Ferreira vir hulle hulp tydens hierdie projek.

“Dit was meer as net die herstel van slaggate. Hierdie projek was n teken van hoop vir ons dorpie. In ’n tyd van groot uitdagings het hierdie projek weereens bevestig dat as ons as gemeenskap saamstaan kan ons ’n verskil maak. Iets wat vir een persoon net soos ’n reusedroom lyk kan vinnig en maklik ’n werklikheid word indien die gemeenskap hande vat en skouer aan die wiel sit. Ons is dankbaar vir elke AfriForum-lid, lid van die gemeenskap en instansie wat ’n bydrae gelewer het en sien uit na nog vele projekte in ons pragtige gemeenskap,” sê Carel Kriel, voorsitter van AfriForum se Theewaterskloof-tak.

Die tak is alreeds besig om te beplan aan hulle volgende projek: die regruk van die plein in Botrivier. Die tak wil graag die gemeenskap en instansies uitnooi om by hulle projekte betrokke te raak deur ’n e-pos te stuur na voorsitter.theewaterskloof@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings