|

Thaba’Nchu-groenteprojek tree nader aan kommersialisering met jongste oes

Die groenteprojek by die Noga’s Post-nedersetting buite Thaba’Nchu in die Vrystaat, wat deur die gemeenskap, kgosi (koningin) Gaboilelwe Moroka, AfriForum en Saai aangepak is, het onlangs 800 kg uie opgelewer. Dié oes is in nabygeleë nedersettings en aan skole verkoop, terwyl daar ook van die uie aan persone met gestremdhede en bejaardes in die gemeenskap geskenk is. Die geld wat deur die verkoop van die oes ingevorder is, word gebruik om insette vir die volgende plantsiklus aan te koop, terwyl dit ook ’n inkomste vir die betrokkenes beteken het. Die gemeenskapslede was ook trots daarop dat hulle van die uie aan kgosi Gaboilelwe en mohumagadi (koninginmoeder) Gaongalelwe Moroka kon skenk.

Kgosi Gaboilelwe (toe nog die hoofvrou van Noga’s Post), die gemeenskapslede, AfriForum en Saai het gedurende 2020 dié landbouontwikkelingsprojek by Noga’s Post afgeskop. Die groentetuin van ongeveer 0,75 hektaar is verskuif om naby die gemeenskap te wees, omhein en toegerus met ’n boorgat en ’n sonkraggedrewe drupbesproeiingstelsel, aangesien dit oorspronklik sonder besproeiing was en vêr van die gemeenskap, oorkant ’n spruit geleë was wat ná swaar reën toegang onmoontlik gemaak het.

Hoewel die tuin uitgelê en toegerus is as ’n gemeenskaplike tuin, is die betrokke gemeenskapslede die eienaars van en verantwoordelik vir spesifieke beddings binne die tuin. Dié model, waarin individuele eienaarskap geneem word, maar daar steeds samewerking en ondersteuning van kundiges is, is deel van die suksesresep van die projek.

“Landbouontwikkeling is ’n kernbelangrike deel van ons plan om die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap se lewensomstandighede te verbeter. Ek is baie trots op hierdie gemeenskap, wat eienaarskap neem en met soveel deursettingsvermoë werk om ’n toekoms vir hulself te skep. Dit is verblydend om te sien dat ons gemeenskappe in ons koninkryk gehoor gegee het aan die oproep om konstruktiewe ondersteuning te benut, slagofferskap verwerp en hul toekoms in hul eie hande neem, ” sê kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap.

“Die verkryging van inkomste deur die verkoop van produkte van die projek is ’n belangrike tree in die gemeenskapslede se reis na selfstandigheid. Dit is ’n voorreg om met gemeenskapslede saam te werk wat eienaarskap neem en toegewyd werk om hul lewensomstandighede te verbeter,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Saai se betrokkenheid by landbouontwikkelingsprojekte soos hierdie fokus op die meganisering, modernisering en kommersialisering van kleinskaalse boerdery. Dit is werklik vervullend om te sien hoe die gemeenskap groei en vorder op die reis na kommersialisering,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoordineerder by Saai.

“Daar is baie onbenutte, hoëpotensiaal landbougrond beskikbaar in die kommunale, landelike gebiede in die land, maar terselfdertyd is daar ’n groot gebrek aan finansiering en kundige ondersteuning vir landbouontwikkelingsprojekte. Dit is hier waar AfriForum en Saai in samewerking met tradisionele leiers en hul gemeenskappe intree om op voetsoolvlak, waar dit die nodigste is, ’n positiewe impak te maak,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Gesamentlike projekte soos hierdie, wat op die grondslag van wedersydse erkenning en respek aangepak word, vestig ook wedersydse begrip, goeie verhoudings en samewerking wat noodsaaklik is om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings