Teatergangers stroom na AfriForum Teater vir Semi-Soet – die musiekblyspel se openingsnaweek, kaartjies verkoop soos soetkoek

Die lank verwagte nuwe AfriForum Teater-produksie, Semi-Soet – die musiekblyspel, met Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander in die hoofrolle, het tydens sy openingsnaweek aan ’n volgepakte teater die beste in Afrikaanse musiekteater gebring. Die musiekblyspel se speelvak het die afgelope naweek afgeskop en sal tot 29 Junie op die planke wees.

Verskeie glanspersoonlikhede, insluitende die sangeres Karlien van Jaarsveld, die Protea-netbalspeler Vanes-Marie du Toit en die TikTokkers Janey & Waney, het die openingsnaweek se uitvoerings bygewoon.

Intussen waarsku Marné Jooste, AfriForum Teater se bemarkings- en kommunikasiebeampte, dat belangstellendes wat ook dié musiekblyspel te siene wil kry, gou sal moet spring. Meer as 70% van die vertonings is reeds uitverkoop. Boonop gaan die speelvak, wat reeds in Maart met ’n volle maand verleng is, nie verder verleng word nie.

Die Semi-Soet – die musiekblyspel se geselskap.

Semi-Soetdie musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie en word in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied. Dit is geïnspireer deur die geliefde gelyknamige Afrikaanse rolprent wat in 2012 in rolprentteaters begin draai het. Dit vertel die verhaal van Jaci van Jaarsveld (gespeel deur Alexander) en JP Basson (Van Jaarsveld) – twee sterk individue met botsende doelwitte wie se paaie onverwags kruis. Tussen wynplase, sakeplanne en romantiese misverstande ontvou ’n storie met ’n perfekte dosis humor en romanse wat keurig afgerond word met nuwe, treffende musiek wat spesifiek vir die blyspel geskryf is.

“Met die naweek se uitverkoopte vertonings het ons gesien dat die gehoor se stoutste verwagtinge oortref is. Ons glo dit is die begin van ’n nuwe era van Afrikaanse musiekblyspele. Ons innige dank aan AfriForum wat soveel belê in Afrikaners en die kunste,” verduidelik Jacomien de Wet, wat saam met Johan Vorster aan die musikale stuur van die produksie staan.

“AfriForum bedank die publiek wat hierdie musiekblyspel in groot getalle ondersteun. Dié steun is ’n reusehupstoot vir die Afrikaanse teaterbedryf wat dit, te midde van moeilike omstandighede, broodnodig het,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings