|

Swellendam-tak en -buurtwag loop ekstra myl om gemeenskap te beveilig

Die AfriForum-tak en -buurtwag in Swellendam het beslis nie op hul louere gerus in Mei nie. Dié buurtwag het op verskeie geleenthede die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp om veiligheidsoperasies uit te voer en sodoende gehelp om die gemeenskap veilig te hou.

Die buurtwag het onder meer gehelp tydens ’n soektog na ’n vermiste man; om gesteelde toerusting terug te vind en om ’n gesoekte misdadiger aan te keer. Daar is ook saam met die SAPD deelgeneem aan massapatrollies en klopjagte. Tydens die klopjag is daar beslag gelê op dwelms, geld en 600 liter se drank.

Die Swellendam-buurtwag het ook saam met die Riversdal-buurtwag, Albertinia-plaaswag en die SAPD gewerk om verdagtes vas te trek.

Ten einde die gemeenskap beter te help tydens noodsituasies het die buurtwag ook ’n nuwe beheerkamer ingerig.

Die Swellendam-tak het ook besig gebly met verskeie projekte wat sal bydra tot die gemeenskap se veiligheid. Die tak het brandkrane in die omgewing geoudit en ook solarligte opgerig as deel van AfriForum se #HerstelEnVersnel-projek. Hierdie solarligte sal verseker dat die strate verlig bly selfs tydens beurtkrag of ander kragonderbrekings.

“Terwyl die stand van gemeenskapsveiligheid in Suid-Afrika daagliks versleg, vermag gewone mense die ondenkbare om hul gemeenskappe te beskerm,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Die suksesse van die Swellendam-buurtwag beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om self verantwoordelikheid te neem vir ons veiligheid. As ons saam werk en goeie samewerking met wetstoepassers bevorder kan ons bydra tot ’n veiliger toekoms vir ons en ons kinders.”

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog betrokke te raak by AfriForum se strukture in Swellendam of kontak Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings