Standerton-vullisterrein enigste terrein wat daadwerklike verbetering in Mpumalanga-Hoëveld toon
Terwyl Standerton se vullisterrein stelselmatig ’n positiewe gedaanteverwisseling ondergaan, is daar veel ander vullisterreine in die Mpumalanga-Hoëveld wat nie die paal haal nie. Hierdie inligting het aan die lig gekom tydens AfriForum se besoek aan die vullisterreine in die Hoëveld as deel van die organisasie se jaarlike nasionale vullisterreinoudit.
Die Standerton-vullisterrein, wat deur die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit bestuur word, het nou ’n netjiese heining om met hekwagte wat toegang tot die terrein beman. Voertuie word geïnspekteer voordat dit op die terrein toegelaat word, terwyl die proses om ’n nuwe weegskaal te bou, aan die gang is. Die binnekant van die terrein is ook skoongemaak en die rommelversamelaars se informele strukture is van die terrein af verwyder. Die pad na binne is netjies en word onderhou.
Intussen het die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake Morgenzon se vullisterrein, ook in die Lekwa-munisipale gebied, al jare gelede gesluit deur bloot ’n briefie oor die sluiting op die hoofhek te plak. Boere in die omgewing en ander gemeenskapslede gebruik egter steeds dié terrein omdat die munisipaliteit sloer om ’n nuwe terrein te skep. Die boere moet dus op eie onkostes die terrein onderhou omdat vullis tot teen die hoofpad gestort word en dan rondwaai en ’n gevaar vir motoriste inhou.
“In dieselfde munisipale gebied is daar hierdie groot teenstelling: Op die een vullisterrein word daar groot vordering gemaak, maar terselfdertyd is daar geen vordering op ’n ander terrein nie,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.
Die Emalahleni-vullisterrein het splinternuwe infrastruktuur op die perseel, waaronder ’n nuwe ingang, hekke, kantore en paaie, maar dit word nie gebruik nie. Die ingang wat tans nog in gebruik is, word deur ’n onbekwame hekwag beman. Daar is ook ’n informele nedersetting oorkant die terrein wat deur die rommelversamelaars gebruik word. Die oomblik wat die rommel die terrein binnegaan, word die herwinbare rommel by die hekke uitgesleep na die nedersetting toe. Die pad na die terrein is ook bitter sleg en veroorsaak dat mense rommel eerder onwettig langs die pad stort as wat hulle die terrein binnegaan om dit te doen.
“Rommelversamelaars hardloop oor die pad en is ’n groot risiko vir hulself en motoriste. Sommige rommelversamelaars spring met tye op stadige voertuie weens die toestand van die pad en gooi die rommel dan van bakkies af sodat hulle dit kan oopmaak en vir items van waarde grou. Die rommel word net so gelos ná hulle klaar is,” sê Bekker.
Die res van die vullisterreine in die streek het nie veel beter gevaar nie. Die algehele tendens is dat munisipaliteite nie die terreine onderhou nie en dat daar bitter min is wat gedoen word om die terreine te bestuur. Hier en daar is klein verbeteringe, maar dit is te min om AfriForum se oudit te slaag. Die terreine se grootste probleme is onder meer paaie wat nie onderhou word nie, ’n tekort aan masjinerie om die rommel elke dag te kompakteer en toe te stoot, die heinings om die terreine is in ’n bitter swak toestand of ontbreek heeltemal, die voertuie wat die terreine binnegaan word ook nie geïnspekteer nie en onwettige items – soos motorbande – word op die terreine gestort, wat ’n brandrisiko op terreine inhou. Daar word ook geen invordering van tariewe gedoen wanneer vullis op die vullisterrein gestort word nie, wat veroorsaak dat die terreine onbestuurbare bates word wat geen inkomste vir die munisipaliteite bied nie.
“Inwoners kla gereeld dat die rook wat van die terreine afkom gesondheidsprobleme inhou. Dik rookwolke hang oor dorpe weens items wat gebrand word. Secunda se terrein het ’n paar maande gelede ook aan die brand geslaan en vir weke aanmekaar gesmeul; die rookwolke het inwoners laat stik,” sê Bekker.
AfriForum is alreeds besig om die vullisterreine se resultate na te gaan en sal dit met moontlike oplossings aan die munisipaliteite bekendmaak sodat die terreine tot hul volle glorie herstel word.
“Ons glo dat die positiewe resultate by enkele van die terreine wat ons geoudit het, as aansporing kan dien om die ander terreine reg te ruk,” sluit Bekker af.
Ondersteun AfriForum, besoek: www.wordlid.co.za.