|

Spoedige optrede van AfriForum-buurtwag lei tot drie arrestasies

Die AfriForum-buurtwag in Keimoes het ’n beduidende rol gespeel in die inhegtenisneming van ’n verdagte wat die afgelope naweek ’n aantal mense, waaronder ’n AfriForum-buurtwaglid, met ’n ongelisensieerde vuurwapen gedreig het. Die arrestasie het Maandagoggend (24 Februarie) omstreeks 01:40 plaasgevind terwyl een van AfriForum se buurtwaglede op patrolliediens was.

Die buurtwaglid het ’n verdagte Volkswagen Polo met drie insittendes tydens sy skof opgemerk. Soos die Volkswagen by hom verbygery het, het hy gesien hoe die bestuurder ’n vuurwapen aan die buitekant van die voertuig rondswaai. Die volgende oomblik het die bestuurder die vuurwapen op die lid gerig en gedreig hy gaan hom skiet.

Die buurtwaglid het die voorval onmiddellik by die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld. Die SAPD het die bestuurder kort daarna in hegtenis geneem en bevestig dat dit ’n egte vuurwapen in sy besit is. By verdere ondersoek is bevind dat die wapen ongelisensieer is. Dié verdagte is by die polisiekantoor in Upington toegesluit.

Volgens verskeie persone in Keimoes het die bestuurder van die voertuig die afgelope naweek in die state rondgejaag en ander mense ook met die vuurwapen gedreig.

Al die insittendes in die voertuig was onder die invloed van alkohol. Die ander twee passasiers is ook gearresteer en by die Keimoes-polisiekantoor aangehou. Die SAPD van Kanoneiland was ook op die toneel.

Die SAPD is besig om verskeie klagtes oor die voorval te ondersoek.

“Ons is trots op die patrollielid se oplettendheid en vinnige optrede, asook die hulp wat ons plaaslike SAPD aangebied het. Ons maan Keimoes inwoners, wat nie lid is van die AfriForum-buurtwag nie, om aan sluit en saam ’n verskil in ons dorp te maak vir almal se veiligheid,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings