Skole en onderrig is ’n belegging in ons gemeenskappe se toekoms
deur Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte
Wanneer ons aan die einde van ’n jaar terugkyk op alles wat ons bereik het, is dit maklik om op getalle en statistiek te fokus. Hoeveel skole het ons besoek? Hoeveel leerders het aan ons projekte deelgeneem? Hoeveel veldtogte is aangebied? Hoewel hierdie syfers vir ons belangrik is, glo ek dat die werklike waarde van ons werk veel verder strek as dit wat ons op papier kan meet.
Vir my lê die waarde juis in die verskil wat ons in die alledaagse lewe van leerders, onderwysers en skole kan maak. Dit is wanneer ’n leerder die selfvertroue ontwikkel om sy mening te lug, wanneer ’n kind leer om vir iemand anders op te staan, of wanneer ’n jong entrepreneur besef dat hy self geleenthede kan skep.

Vanjaar was ’n besondere jaar vir ons Dink of Sink-debatskompetisie, wat sy tiende bestaansjaar gevier het. Oor die afgelope dekade het hierdie kompetisie ontwikkel tot ’n gevestigde platform waar leerders nie net hul redenaars- en debatvaardighede slyp nie, maar ook leer om krities te dink, navorsing te doen en hul standpunte met selfvertroue te verdedig. Dit is vaardighede wat hulle lank ná hul skoolloopbaan sal kan gebruik.

Ons teenboelieveldtog het vanjaar byna 20 000 leerders reg oor Suid-Afrika bereik. Boeliegedrag bly ’n groot uitdaging in ons skole en die invloed daarvan op kinders se selfbeeld en emosionele welstand kan nie onderskat word nie. Deur hierdie veldtog wil ons nie net bewustheid skep nie, maar leerders ook toerus om boeliegedrag te herken, daarteen op te tree en met groter respek en begrip teenoor mekaar op te tree.

Met ons Besigheidsbytjies-werkswinkels fokus ons weer op die ontwikkeling van jong entrepreneurs. Ons wil leerders aanmoedig om kreatief te dink, geleenthede raak te sien en te verstaan dat hulle self ’n rol in hul ekonomiese toekoms kan speel. In die huidige ekonomiese omstandighede is dit belangriker as ooit om reeds op skoolvlak ’n ondernemingsgees onder jongmense te kweek.
Ons vetplantveldtog het ook vanjaar ’n belangrike rol gespeel om leerders bewus te maak van Suid-Afrika se unieke natuurerfenis, die bewaring van vetplante en die ernstige stropingskrisis wat daarmee gepaardgaan. Ons glo dat natuurbewaring reeds by jong kinders begin en dat kennis en bewustheid die eerste stap is om verantwoordelikheid vir ons omgewing te aanvaar.

AfriForum se betrokkenheid by skole strek egter veel verder as opvoedkundige projekte en veldtogte. Regdeur die jaar het ons ook talle opknappings- en instandhoudingsprojekte by skole aangepak. Dit sluit onder meer die herstel van slaggate, verf van padtekens, grassny, oprigting van noodwaterpunte en die uitvoer van veiligheidsoudits in.
Hierdie projekte is vir ons besonder belangrik omdat ’n veilige, netjiese en funksionele skoolomgewing ’n direkte invloed op die daaglikse funksionering van ’n skool het. Dit is ook ’n praktiese voorbeeld van wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan en self verantwoordelikheid aanvaar om probleme op te los.
Ons probeer ook om reeds op kleuterskoolvlak ’n verskil te maak. Met ons Leer Afrikaans-inkleurboek wil ons jong kinders op ’n prettige en toeganklike manier aan Afrikaans blootstel en hul taalontwikkeling ondersteun. In samewerking met AfriForumTV verskaf ons ook TV-stroomboksies aan kleuterskole, sodat die jongspan toegang tot die verskeidenheid Afrikaanse kinderprogramme op die platform kan kry. Dit bied aan kleuterskole nog ’n hulpmiddel om Afrikaans op ’n interessante en genotvolle manier deel van kinders se daaglikse leerervaring te maak.
’n Verdere belangrike deel van ons werk is ons betrokkenheid by skolesport- en kultuurreekse, waaronder die Super 12-sportreeks, die Kobus Wiese Superreeks en Bokkieweek.
Hierdie geleenthede bied nie net aan leerders die geleentheid om hul sport- en kultuurtalente te ontwikkel nie, maar speel ook ’n belangrike rol in die vestiging en oordrag van ons Afrikanerkultuur. Dit is juis tydens hierdie byeenkomste waar tradisies voortleef, vriendskappe gevorm word en jongmense leer wat dit beteken om deel van ’n groter gemeenskap te wees. Die waarde hiervan moenie onderskat word nie.
Wanneer ek na al hierdie projekte kyk, besef ek weer hoe uiteenlopend ons werk in die onderwysomgewing is. Tog het elkeen van hierdie projekte dieselfde doel voor oë: om skole te ondersteun, leerders te ontwikkel en gemeenskappe te versterk.
Ek glo dat skole steeds een van die belangrikste boustene van ons gemeenskappe is. Dit is waar kinders nie net akademies ontwikkel nie, maar ook waardes aanleer, hul talente ontdek, vriendskappe bou en hul identiteit vorm. Daarom is dit vir ons belangrik om skole op verskillende maniere te ondersteun en te help om omgewings te skep waarin leerders hul volle potensiaal kan bereik.
Ons is dankbaar vir elke skool wat vanjaar sy deure vir ons oopgemaak het, elke onderwyser wat ons projekte ondersteun het en elke vrywilliger en gemeenskapslid wat bereid was om hand by te sit. Sonder hierdie samewerking sou baie van ons projekte eenvoudig nie moontlik gewees het nie.
Wanneer ons die onderwysjaar afsluit, doen ons dit met groot waardering vir dit wat ons saam kon bereik, maar ook met die besef dat daar nog baie werk voorlê.
Gemeenskapsbou gebeur nie oornag nie. Dit verg tyd, volgehoue betrokkenheid en die bereidwilligheid om soms klein te begin en geleidelik daarop voort te bou.
Dit is juis waarom ek glo dat elke projek, ongeag hoe groot of klein, ’n betekenisvolle bydrae kan lewer.
Want uiteindelik gaan dit nie net oor wat ons vanjaar bereik het nie, maar oor die grondslag wat ons vir die volgende geslag lê.
- Deur vandag in ons skole en leerders te belê, bou ons aan sterker gemeenskappe vir môre. In 2027 doen ons so voort!



