AfriForum kry Swellendammers en Oudtshoorn-inwoners reg vir veldbrandbestryding
AfriForum se Rampbestuurafdeling het die afgelope twee naweke bykans 40 persone, insluitend AfriForum-tak- en buurtwaglede en ander rolspelers, touwysgemaak oor die bestryding van veldbrande. Dit volg ná Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, in Swellendam en Oudtshoorn opleiding aangebied het om gemeenskapslede te bemagtig om veldbrande veilig te bestry.
“Veldbrandbestryding vereis goeie samewerking tussen verskillende organisasies en nooddienste. Met die opleiding het ons nie net veilige metodes oorgedra nie, maar ook hoe daar met verskillende brandbestrydingsverenigings saamgewerk kan word. Die klem val op gekoördineerde optrede en die belangrikheid daarvan om binne bestaande veldbrandbestuurstrukture te funksioneer,” verduidelik Cooks.
AfriForum se tak- en buurtwaglede is gereeld betrokke by die blus van veldbrande en hierdie opleiding is noodsaaklik om veilige optrede te verseker wanneer hulle ontbied word. Daar word onder meer tydens die opleiding gekyk na brandvoorkoming, korrekte optrede voor en ná ’n brand en die identifisering en prioritisering van risiko’s. Die munisipale en distriksbrandweerdienste het tydens hierdie AfriForum-sessies ook praktiese opleiding gebied om aan gemeenskapslede die geleentheid te bied om hul nuwe vaardighede in te oefen.

“Tydens ’n veldbrand moet daar ’n duidelike bevelstruktuur wees om verwarring te voorkom. Lede leer hoe die insidentbevelstelsel werk, wie verantwoordelik is vir besluitneming en waarom dit belangrik is om opdragte van die aangewese bevelvoerder te volg. Dit verseker dat personeel, voertuie en toerusting doeltreffend en veilig aangewend word,” sê Cooks.
AfriForum se Swellendam-tak beskik reeds oor ’n brandspan, terwyl die Oudtshoorn-tak eersdaags ’n brandspan op die been gaan bring. Ander stede, dorpe en takke wat reeds AfriForum-brandspanne het, sluit onder meer in Pretoria, Alberton, Port Elizabeth, Overstrand en Weskus.
Johan van der Nest, lid van AfriForum se Oudtshoorn-tak, meen die opleiding was baie waardevol. “Dit was die beste praktiese en toepaslike brandbestrydingskursus wat ek nog bygewoon het. Die aanbieding was professioneel en alles was goed georganiseerd.”
Volgens Cooks raak munisipale verval elke inwoner. “Gemeenskappe hoef egter nie magteloos toe te kyk hoe hul omgewing agteruitgaan nie. AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe te mobiliseer, vrywilligers toe te rus en praktiese oplossings te vind waar dienslewering tekortskiet. Of dit nou die instandhouding van openbare ruimtes, die beveiliging van woonbuurte of hulp tydens noodsituasies is, ons doel bly dieselfde: om gemeenskappe sterker, veiliger en meer selfstandig te maak,” sluit sy af.



