|

Sedgefield gou veiliger ná munisipaliteit eindelik toegee oor erwe, onwettige strukture

AfriForum se Knysna-tak verwag dat Sedgefield en spesifiek die erwe op die omstrede Sedgefield-duin, binnekort veel veiliger gaan wees. Dit kom nadat die burgerregteorganisasie, tesame met die gemeenskap en die Sedgefield Duin-komitee onlangs ’n reuseoorwinning in die stryd teen eiendomsreg en onwettige besetters behaal het. Die Knysna Plaaslike Munisipaliteit het eindelik ná ’n jarelange geskil oor sekere erwe op die Sedgefield-duin tussen Groenvallei en Smutsville, verantwoordelikheid vir die grond en die onwettige strukture wat daarop aangebring is, aanvaar.

Die betrokke erwe (2794 en 2553) het voorheen aan die ontwikkelaar Landjong Beleggings behoort, maar is reeds in 1993 aan die destydse Sedgefield-munisipaliteit oorgedra. In 1996 het Sedgefield egter deel van die Knysna Plaaslike Munisipaliteit geword. Tot op hede het dié munisipaliteit gesloer met die finale oordrag van die erwe en gevolglik het die gemeenskap daaronder gely. Deur die jare heen is daar onwettige strukture op die duin opgerig, wat die stabiliteit van die duin en die veiligheid van diegene onderaan die duin, in twyfel getrek het. Deurentyd het die munisipaliteit geweier om die strukture te verwyder en aangevoer dat die grond nie aan hulle behoort nie.

Met AfriForum se volgehoue ondersteuning van die saak, het die munisipaliteit eindelik erken dat die erwe wel aan hom behoort, dit sy verantwoordelikheid is om die oordrag te voltooi en die onwettige besetters uit te sit.

“Hierdie deurbraak beteken dat onwettige strukture op die grond nie langer geduld sal word nie, wat sal bydra tot ’n veiliger omgewing vir almal. Die Sedgefield-duin is berug vir die hoeveelheid onwettige strukture wat oornag opgerig word, wat die stabiliteit van die duin nog verder bedreig. Inwoners word ook gereeld geteister met ondraaglike geraasbesoedeling,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum is hoopvol dat verandering op pad is danksy Lulamile Mapholoba, die nuwe munisipale bestuurder, wie se volgehoue pogings die munisipaliteit op die regte pad hou.

“Mnr. Mapholoba se vriendelike gesindheid teenoor die gemeenskap laat AfriForum se Knysna-tak hoopvol dat die burgerlike samelewing nog lank saam met hom gaan werk. Die burgerregteorganisasie sien ook uit daarna om nou saam met Harry Hoff, waarnemende hoof van Wetstoepassing, te werk. Mnr. Hoff se afdeling is blitsvinnig om op te tree wanneer daar onwettige strukture opgerig word,” voeg Erasmus by.

AfriForum se Knysna-tak bedien die groter Knysna gebied en het al verskeie suksesvolle gemeenskapsprojekte van stapel gestuur. Raak vandag nog betrokke om die tak te help om meer te doen. Stuur ’n epos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings