Boerebande in verre lande – Suid-Korea onthou …
Heelwat Suid-Afrikaners hou deesdae in Suid-Korea skool, maar ons bande met dié land is veel ouer. ’n Uiters interessante, maar ook tragiese stuk geskiedenis is die gebeure tydens die Koreaanse Oorlog (1950-1953), toe lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) ’n besondere bydrae daar gelewer het.
Die oorlog was ’n stryd tussen die Sowjet- en Chinees-gesteunde kommunistiese Noord-Korea en anti-kommunistiese Suid-Korea wat deur Amerika en die Verenigde Nasies (VN) gesteun is. Dit het ’n aanvang geneem toe Noord-Korea die suide op 25 Junie 1950 binnegeval het.
Oproepe van die VN se Veiligheidsraad dat Noord-Korea alle vyandige optrede moet staak, is geïgnoreer en gevolglik is ’n resolusie aanvaar dat die lede van die VN Suid-Korea moes help beskerm en vrede in die gebied herstel.
As stigterslid van die VN het die Suid-Afrikaanse regering die VN se oproep om hulp ondersteun deur ’n vegvliegtuigeskader van die SALM met grondpersoneel beskikbaar te stel. Deelname aan die aksie was vrywillig – die SALM kon destyds nie hulle lede verplig om by aksies buite die land betrokke te raak nie.
Op 26 September 1950 het Nommer 2 Eskader, ook bekend as die “Vlieënde Cheetahs” na Korea vertrek. Die eskader was met hulle F-51D Mustangs en later F-86F Sabres aan die Amerikaanse Lugmag se 18de Vegbomwerpervleuel verbonde. Teen die einde van die oorlog het die eskader altesaam 12 067 aanvalsmissies onderneem, waartydens hulle 74 van hul 97 Mustangs en 4 van hul 22 Sabres verloor het. In totaal het 826 Suid-Afrikaners tydens die oorlog diens gedoen. Hulle het bestaan uit 243 lugmagoffisiere, 545 grondpersoneel en 38 leëroffisiere en manskappe wat as deel van die Eerste Statebondsdivisie daar betrokke was. Amptelik het 37 van hulle tydens die oorlog omgekom.
Die Facebookgroep “South Africans in WW1, WW2 and Korean War” is ’n skatkis van inligting oor die Suid-Afrikaners se deelname. Volgens Dirk Louw, een van die lede van die groep, bestaan die 37 uit 34 vlieëniers en een onderoffisier. Verder het adjudant-offisier R.H. Carpenter onderweg na Korea in Mauritius gesterf. Die 37ste oorledene was luitenant Mike Halley. Hy is op 23 Julie 1951 in Korea neergeskiet, waarna hy as krygsgevangene aangehou is totdat die vyandelikhede in Julie 1953 gestaak het. Hy is op 15 Augustus 1954 op 25-jarige ouderdom oorlede weens siektes wat hy as gevolg van die haglike toestande in die krygsgevangenekampe opgedoen het.
Elf van oorledenes is in die VN se Gedenkbegraafplaas in Busan, Korea begrawe. In November 2024 het Glen Devilliers foto’s van hul grafte en inligting oor hulle op die genoemde Facebookgroep geplaas. Almal het nie tydens gevegte omgekom nie. Luitenant T. Liebenberg het byvoorbeeld op 10 Junie 1951 omgekom in ’n ongeluk terwyl hy besig was om op te styg, wat bewys hoe gevaarlik die omstandighede was waaronder hulle gevlieg het.
Die latere hoof van die lugmag, luitenant-generaal Denis John Earp, was ook een van die vlieëniers wat aan die stryd deelgeneem het. Nadat sy Mustang getref is, moes hy uitskiet en is hy gevange geneem. Hy is 23 maande lank as krygsgevangene aangehou.
Humor was daar wel ook.
Daar was skynbaar “vriendelike wedywering” tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse vlieëniers. Die Suid-Afrikaners kon blykbaar makliker grondteikens opspoor as die Amerikaners – waarom is nie duidelik nie. Om te verseker dat hulle dan eerste die teikens kon aanval, het hulle probeer om die inligting van die Amerikaners te weerhou deur Afrikaans met mekaar te praat. Dié taktiek het gewerk totdat die Amerikaanse bevelhebber gelas het dat alle vlieëniers Engels moes praat.
Buiten vir die grafte in Busan, is daar ook twee pragtige gedenktekens in Suid-Korea wat hulde aan die Suid-Afrikaners bring. Die oorledenes se name verskyn verder op die ererol wat op die webtuiste van die Korea Oorlogsmonument-organisasie (www.warmemo.or.kr:8443) beskikbaar is.
Die eerste gedenkteken is die Koreaanse Oorlogsmonument van die Suid-Afrikaanse Lugmag in Pyeongtaek, Suid-Korea. Dit is op 29 September 1975 deur die Ministerie van Verdediging van die Republiek van Korea onthul. Dit sluit ’n gedenkplaat met die name van 36 van die oorledenes in. Op ’n suil is ’n pragtige beeld van ’n staande springbokram – die simbool wat internasionaal met Suid-Afrikaanse gevegsmagte geassosieer word. Die gedenkplaat op die monument bevat die volgende woorde:
INSKRIPSIE:
DIE VERHEWE IDEALE VAN VRYHEID EN WELWILLENDHEID
ONDER NASIES VAN HIERDIE SUID-AFRIKANERS
IS ONS TROTSE ERFENIS.
DIE SWAAR VERLIESE GELY
ONS BLYWENDE BESIELING
Die tweede is deel van die Oorlogsmuseum van Korea in Seoul. Suile gee erkenning aan die lande wat deelgeneem het aan die oorlog, insluitend Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse vlag wapper daarbo.
Verder is erkenning aan die eskader gegee deur middel van verskeie toekennings, insluitend die Amerikaanse Presidensiële Toekenning, die Koreaanse Presidensiële Toekenning en die Eenheidstoekenning van die Amerikaanse lugmag.
In Washington D.C. is ’n gedenkteken vir Koreaanse Oorlogsveterane en op die Muur van die VN wat deel daarvan uitmaak, word erkenning ook aan die Suid-Afrikaanse rol in die stryd gegee.
In Suid-Afrika is daar verskeie oorlogsmonumente wat onder andere aan die Suid-Afrikaanse veterane van dié oorlog hulde bring. Dit sluit die SALM Monument op Baysheuwel by die Swartkop Lugmagbasis, by die Uniegeboue en as deel van die Senotaaf in Kaapstad in.
In die skadu van soveel ander militêre stryde van die twintigste eeu wat dit voorafgegaan en daarop gevolg het, het die Koreaanse Oorlog al byna in die vergetelheid verdwyn, maar die besondere rol van die onverskrokke Suid-Afrikaners wat hier betrokke was, verdien om veel meer aandag te geniet en onthou te word.
- Bron van hooffoto: DefenceWeb



