Rioolkrisis woed in Vanderbijl: AfriForum lê regrukplan voor
AfriForum het gister (19 Junie) ’n memorandum aan die kantoor van April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig waarin dringende ingryping by die rioolkrisis in Vanderbijlpark geëis word.
Van die grootste uitdagings in Emfuleni is die wanfunksionering van die rioolsuiweringsaanleg en vervalle infrastruktuur. Riool wat in strate afloop of selfs inwoners se erwe oorstroom, het ’n algemene verskynsel in Vanderbijlpark geword. Riviere in die omgewing word ook gereeld met riool besoedel. Die munisipaliteit het van 2019 tot 2024 ’n totaal van R202 miljoen aan 71 kontrakteurs betaal om dié probleme die hoof te bied. Dit het egter geen noemenswaardige verskil gemaak nie.
“Inwoners se gesondheid ly onder Emfuleni se swak dienslewering. Daar is ook groot skade aan die omgewing met rou riool wat in onder meer die Vaalrivier beland. Inwoners het al herhaaldelik hul misnoeë met die situasie te kenne gegee en dit selfs in die vorm van protesaksies laat hoor,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wesrand en Vaaldriehoek.
AfriForum bied in sy memorandum ’n vyfpuntplan as oplossing vir dié rioolkrisis:
- Gemeenskapsforum: Eerstens moet ’n gemeenskapsforum, met die rioolkrisis as fokus, op die been gebring word waar die gemeenskap insette kan lewer en hul bekommernisse kan laat hoor. Verteenwoordigers van Emfuleni, Rand Water en elke wyk in Vanderbijlpark moet hierop verteenwoordig word.
- Deursigtigheid: AfriForum vereis dat deursigtigheid oor dié aangeleentheid geprioritiseer moet word en dat maandelikse verslae oor die stand van sake op die munisipaliteit se webwerf en sosialemediaplatforms geplaas word.
- Finansiële oudit: AfriForum dring daarop aan dat ’n finansiële oudit onderneem word om te bepaal hoe die R202 miljoen wat aan kontrakteurs bestee is, aangewend is en of daar enige wanbestuur of korrupsie in die besteding daarvan was.
- Samewerking: AfriForum stel nouer samewerking met die Departement van Gesondheid voor sodat gesondheidsrisiko’s vinniger getakel kan word.
- Volhoubare instandhoudingsplan: AfriForum stel laastens voor dat ’n volhoubare instandhoudingsplan vir Vanderbijlpark se rioolinfrastruktuur opgestel en ingestel moet word. Hierdie plan moet begrotings en skedules duidelik uiteensit.
Tydens Forum Nuus se besoek aan Vanderbijlpark in April vanjaar het verskeie ander rolspelers ook hul misnoeë te kenne gegee oor die munisipaliteit se onvermoë om die rioolkrisis op te los. Kyk dié video hier.
“Die rioolkrisis in Emfuleni hou ernstige gevolge in vir die gesondheid, veiligheid en menswaardigheid van die gemeenskap. Dit is uiters belangrik dat Emfuleni dadelik optree om dié probleme te takel,” sluit Blignault af.
Emfuleni moet teen 3 Julie op die memorandum te reageer. AfriForum beoog intussen om ook ’n vergadering met die burgemeester te belê om oor die regrukplan te beraadslag.