Ramp wag op gevaarlike Benoni-kruisings – AfriForum eis onmiddellike optrede
AfriForum doen ’n beroep op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit en die Gautengse regering om die verkeersligte by ses besige kruisings in Benoni, wat al vir minstens ’n jaar buite werking is, dringend te herstel. Dit veroorsaak erge verkeersopeenhopings en gereelde ongelukke, is ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en voetgangers, en vermeerder reistyd met ongeveer 50 minute.
AfriForum het dié versoek op 30 September in ’n brief aan die Ekurhuleni-metro en die provinsiale regering gerig nadat die organisasie talle klagtes van die gemeenskap ontvang het oor die verkeersligte wat nie werk nie. Die probleem is al telkemale aan die betrokke owerhede gerapporteer, terwyl geen aksie geneem word nie. Sommige van hierdie kruisings vloei na hoofroetes, wat na die N17, R21, Pretoria, die Oos-Rand en O.R. Tambo Internasionale Lughawe lei. Hierdie verkeersligte is hoofsaaklik in Brentwood Park in Great North-weg geleë waar dit met High-weg, Stanley-weg, Weststraat en Deodarstraat kruis. Die verkeersligte op die hoek van Atlas-weg en Elginstraat, sowel as Louisa- en High-weg, is ook al vir sowat ’n jaar buite werking. Intussen het ’n plaaslike onderneming onlangs vir die herstelwerk aan die verkeersligte by Great North- en Louisa-weg betaal, wat ook vir baie lank nie gewerk het nie.
Aangesien sekere kruisings (soos High-weg) onder die jurisdiksie van die Gautengse regering val en ander onder die jurisdiksie van die metro, versoek AfriForum dat die nodige stappe gedoen word, insluitend behoorlike skakeling tussen die betrokke departemente, om hierdie kruisings sonder verdere vertraging te herstel. Alhoewel die metro pogings aangewend het om verkeersligte in die sakekern te vervang, bly Brentwood Park se kruisings ’n nagmerrie.
Boonop met die Desember-vakansie wat voorlê, moet hierdie krisis as prioriteit geag word, lui die brief. Die Brentwood Park-gemeenskap pleit al lank genoeg vir ingryping, daarom eis AfriForum dat die metro en die Gautengse regering binne 14 dae ná ontvangs van hierdie brief ’n aksieplan verskaf wat die onmiddellike stappe wat geneem gaan word, die verantwoordelike amptenare en die presiese tydlyne uiteensit waarvolgens die betrokke kruisings en padinfrastruktuur herstel sal word.
“Die instandhouding van kruisings op provinsiale roetes is van kardinale belang omdat dit swaar verkeer dra. Wanneer verkeersligte buite werking is, verhoog dit verkeersvolume en die risiko van ernstige ongelukke. Hoe lank nog moet die gemeenskap vra vir hulp voordat iemand ingryp? Die metro en provinsiale regering versuim duidelik hul pligte, daarom sal AfriForum druk toepas totdat hierdie verkeersligte herstel is,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om AfriForum se Benoni-tak se projekte te ondersteun of kontak die tak direk by 084 976 1234.