Ramaphosa se politieke foefies sal nie NGV laat werk nie, sê AfriForum
Een skitterende navorsingsfasiliteit maak nie Nasionale Gesondheidsversekring (NGV) grondwetlik of finansierbaar nie. Só reageer AfriForum op Pres. Cyril Ramaphosa besoek aan die Kerngeneeeskunde Navorsingsinfrastruktuur (NuMeRI) fasiliteit by die Steve Biko Akademiese Hospitaal gister in Pretoria. Ramaphosa het tydens die besoek onder meer gesê dat dié wat veldtogte voer teen NGV daarheen moet gaan om te sien hoe NGV definitief gaan werk.
AfriForum wys daarop dat daar geen verband is tussen die gehalte van dié fasiliteit en die grondwetlikheid of werkbaarheid van die NGV-stelsel nie. Bowendien is daar verskeie berigte van nalatigheid en wanbestuur by die Steve Biko Akademiese Hospitaal – dieselfde instelling waardeur Ramaphosa gister kwansuis beïndruk gelaat is. Sommige pasiënte het ook al na AfriForum uitgereik nadat hulle slegte ervarings in dié hospitaal gehad het en hul klagtes op dowe ore geval het.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder van gesondheid, wys hierdie opmerkings van Ramaphosa hoe vêr verwyderd hy van die uitdagings en gebreke van meeste openbare gesondheidsfasiliteite in die land is. “Die regering benodig minstens R800 miljard om NGV te finansier. Hoe gaan dié navorsingsfasiliteit help om geld in die hande te kry? En hoe help dit enigsins om disfunksionele landelike klinieke reg te ruk?”
Boshoff noem verder dat selfs Nicholas Crisp, die adjunk-direkteur-generaal van Gesondheid en hoof van die NGV-stelsel, vroeër in ’n onderhoud gesê het dat NGV nie ’n towerstaffie is nie en slegs ’n finansieringsmeganisme vir gesondheidsorg moet wees. Nou lyk dit egter asof Ramaphosa glo dat NGV ’n towerstaffie is wat beskikbare gesondheidsorg uit die niet sal optower.
AfriForum staan intussen gereed om die regering voor die hof te daag om te bewys hoe die NGV-stelsel gesondheidsorgvoorsiening kan verbeter. AfriForum sal ook deskundige getuienis lewer oor waarom NGV eerder die teenoorgestelde tot gevolg sal hê.