Ramaphosa moet nóú kies – hou aan ontken of herstel, waarsku AfriForum

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

AfriForum waarsku dat ANC-leiers en hul bondgenote se verbete pogings om kommer oor probleme in die land valslik af te maak as die gevolg van misinformasie, sál misluk. Dié waarskuwing volg in reaksie op gister se ontmoeting in die Withuis tussen die Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van president Cyril Ramaphosa met die Amerikaanse president Donald Trump waartydens Trump fel kritiek uitgespreek het oor onder meer die Onteieningswet en die “Kill the Boer”-dreunsang.  

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, staan Ramaphosa en sy ANC-geleide regering nou voor ’n ernstige keuse: “Hulle kan óf aanhou om Suid-Afrika se knellende probleme te ontken – wat ernstige negatiewe implikasies vir die land sal inhou – óf hulle kan probeer om die land uit hierdie krisis te lei deur onder meer die menseregteskendings waaraan Afrikaners en ander minderhede onderwerp word, te erken en te help oplos,” beklemtoon Kriel.

Hy voer voorts aan dat plaaslike oplossings die enigste manier is waarop internasionale kommer besweer en verhoudinge met die VSA herstel sal kan word. AfriForum is ook volgens Kriel daartoe verbind om te help om oplossings deur middel van verdere gesprekvoering te vind.

Kriel beklemtoon dat die instelling van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) en die Onteieningswet sowel as die toepassing van uiteenlopende rasseregulasies bydra tot die vervreemding van Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe in die land. “Die ANC-geleide regering se daad van aggressie teen Afrikaanssprekendes deur Afrikaanse skole en gevolglik Afrikaanse kultuurgemeenskappe se voortbestaan te bedreig, het ’n ernstige vertrouensbreuk veroorsaak. Die breuk is vererger deur die publisering van drakoniese rasseregulasies wat streng rassekwotas in die werksplek en ekonomie afdwing, die ontkenning van menseregteskendings, soos sigbaar in plaasmoorde, en wetgewing wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak.”

“Ontkenning en intimidasiepogings, soos onder meer duidelik in die klagtes van hoogverraad wat teen AfriForum aanhangig gemaak is, sal ons nie tot stilswye dwing nie. Inteendeel, dit motiveer ons juis te meer om ons regmatige saak met groter ywer te stel,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings