|

Prieska-vullisterrein ’n gemors – AfriForum eis dringende optrede

AfriForum doen ’n dringende beroep op die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit en die betrokke owerhede om onmiddellik in te gryp by die haglike toestand van die vullisterrein op Prieska. Die terrein voldoen nie aan basiese wetlike en gesondheidsvereistes nie en stel die gemeenskap aan groot risiko’s bloot.

Van die probleme op die vullisterrein is ’n gebrek aan heinings of hekke om toegang tot die terrein te beheer nie, daar is geen veiligheidswagte of beamptes wat toesig hou oor die perseel nie, asook die onwettige storting van karkasse en buitebande.

In ’n brief wat AfriForum se Prieska-tak gister aan die munisipale bestuurder gestuur het, eis die organisasie dat ’n heining om die vullisterrein opgerig word om toegang tot die terrein te beperk en te beheer. AfriForum stel ook voor dat veiligheidswagte en toesighouers op die perseel aangestel word om toe te sien dat reëls nagekom word. Dieselfde brief is aan die Groen Skerpioene gestuur.

Verdere versoeke van AfriForum sluit in die beskikbaarstelling van basiese geriewe soos water en toilette op die terrein, dat die pad na die terrein herstel word en duidelike aanwysingsborde opgerig word, sowel as die beskikbaarstelling van nodige swaar voertuie en toerusting om die terrein te bestuur.

Nóg probleme wat die organisasie in die brief uitgewys het, is die volwassenes en kinders wat op die terrein woon en in gevaar verkeer, en die terrein word daagliks aan die brand gesteek, wat ’n groot gesondheidsrisiko en brandgevaar inhou.

Volgens AfriForum is die huidige situasie op die vullisterrein nie net gevaarlik vir die inwoners wat om die terrein woon nie, maar ook vir die omgewing. Die brandende vullis stel inwoners bloot aan giftige rook, terwyl oop karkasse en afval tot ernstige siektes kan lei.

“Die feit dat kinders en gesinne genoodsaak is om onder sulke omstandighede te leef, is onaanvaarbaar en grens aan ’n humanitêre krisis,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari. “Ons sal nie toelaat dat hierdie situasie voortduur sonder dat die owerhede tot verantwoording geroep word nie.”

“Ons sal voortgaan om druk toe te pas totdat die mense van Prieska ’n skoon, veilige en wettige vullisterrein het wat minstens aan die minimum standaarde vir vullisterreine voldoen,” sluit Strauss af.

Die munisipaliteit het tot 28 Augustus om op AfriForum se brief te reageer.

Soortgelyke plasings