|

Potchefstromers verloor alle vertroue in munisipale bestuur – AfriForum maak klag aanhangig by premier

AfriForum se Potchefstroom-tak het vandag ’n klag van swak dienslewering teen die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit aanhangig gemaak by die premier van Noordwes, Lazarus Mokgosi, en eis nou dat die premier by die onhoudbare situasie in dié munisipaliteit moet ingryp. Die burgerregteorganisasie het ’n soortgelyke klag aanhangig gemaak by die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DSRTS).   

Dienslewering in die JB Marks-munisipaliteit het, volgens AfriForum en tot groot frustrasie van inwoners, nou ’n laagtepunt bereik. Inwoners ervaar, luidens ’n meningspeiling wat AfriForum in Mei onderneem het en waaraan nagenoeg 1 000 Potchefstromers deelgeneem het, ernstige ontevredenheid ten opsigte van munisipale dienslewering. Die bevindinge van die peiling vorm die grondslag van die klag teen die munisipaliteit.

Tevredenheid oor die lewering van munisipale dienste in nege afdelings is gemeet, naamlik: parke en ontspanningsgeriewe; verkeersveiligheid; straatligte; kliëntediens by munisipale kantore; riool- en sanitasiedienste; vullisverwydering; padinstandhouding; elektrisiteitsvoorsiening (beurtkrag uitgesluit); en watervoorsiening.

Oorhoofs gesien, het slegs 10,4% van respondente aangedui dat hulle tevrede of baie tevrede is met dienslewering in dié nege kategorieë, terwyl sowat driekwart van respondente (oftewel 75%) ontevrede of baie ontevrede is. Die oorblywende persentasie staan óf neutraal óf is onseker oor hul tevredenheidsvlak.

Die peiling bevestig dat respondente die hoogste vlakke van ontevredenheid ondervind oor die instandhouding van paaie, beligting in strate en die instandhouding van parke en ontspanningsgeriewe. Sowat 95% van respondente is baie ontevrede met die munisipaliteit se werk ten opsigte van padinstandhouding, terwyl ’n bykomende 4,6% van respondente ontevrede is. Uit die 908 respondente wat hul tevredenheid in hierdie kategorie aangemeld het, het slegs ses respondente aangedui dat hulle onseker of neutraal oor die gehalte van dienslewering in dié verband staan. Net meer as 94% van respondente het boonop aangedui dat hulle ontevrede tot baie ontevrede is oor straatbeligting én parke en ontspanningsgeriewe.

Luidens die resultate is Potchefstromers ook uiters ontevrede met Kgomotso Kumbe die huidige munisipale bestuurder, en Gaba Thithiba Ka Qhele, burgermeester. ’n Totaal van net meer as 91% dink Kumbe moet uit sy pos verwyder word, terwyl bykans 91% meen Qhele ontslaan moet word.

AfriForum dring in sy klag wat nou by die premier aanhangig gemaak is daarop aan dat daar dringende ondersoek ingestel word na die stand van dienslewering in Potchefstroom; dat munisipale leierskap verantwoordelik gehou word vir hul mislukkings; dat die lewering van basiese dienste (soos water, elektrisiteit en sanitasie) herstel en onderhou word; en dat ’n funksionerende klagtestelsel vir inwoners op die been gebring moet word.

Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum se Mooirivier-distrik, bevestig die bevindinge dat JB Marks-munisipaliteit sy inwoners in die steek laat. “Die gemeenskap het hul vertroue verloor in die plaaslike regering se vermoë om gehalte diens te lewer. Die tyd vir daadwerklike optrede in die herstel van dienslewering en die afdwing van verantwoordbaarheid het nou aangebreek word. Ons glo dat die provinsiale owerhede sal intree voordat Potchefstroom totaal vernietig word. Intussen sal AfriForum die bevindinge van hierdie opname inspan om nie net druk op die munisipaliteit uit te oefen nie, maar om ook as deel van die organisasie se selfdoenbenadering voort te gaan om oplossings te vind wat die lewensgehalte van Potchefstroom se inwoners sal verbeter,” beklemtoon Pretorius.

AfriForum se Potchefstroom-tak het intussen ook vandag ’n petisie van stapel gestuur waardeur inwoners hul stem kan laat hoor en die burgemeester en munisipale bestuurder se bedankings kan eis.

Soortgelyke plasings