Potch neem voortou van plaaslike sakenetwerke met dié bestuur
AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Potchefstroom het die afgelope week voortou geneem deur ’n bestuur te verkies wat dié dorp se sakelui sal ondersteun. Hierdie sakenetwerk is die eerste van sewe plaaslike sakenetwerke – wat onlangs deur AfriForum Sakenetwerk gestig is – om ’n bestuur te verkies.
“Die bestuur is verantwoordelik daarvoor om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
AfriForum Sakenetwerk se Potchefstroom-bestuur is op 14 Maart verkies en bestaan uit Christi-Léne Gericke (Rain Chartered Accountants) as voorsitter, Alta Pretorius, (AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier) as ondervoorsitter, Morné Alexander (direkteur van Pulse Credit) as tesourier, Miranda Huisamen (Kleinplaas Pype) as koördineerder van die sosiale-portefeulje en Catherine-May Trollip (Akademia se afdeling vir institusionele projekte en ondernemings) as sekretaris.
“Die stigting van dié plaaslike sakenetwerk en die aanstelling van ’n bestuur beteken dat ondernemings in en om Potchefstroom van krag tot krag sal gaan,” sê Van der Walt. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap.”
Potchefstroom se plaaslike sakenetwerk se eerste netwerkgeleentheid vind op 11 April om 11:30 plaas. Enigeen wat by hierdie geleentheid baat kan vind, word genooi om in te skakel. Kontak gerus Christi-Léne Gericke (voorsitter) by 072 460 0067 vir meer inligting oor hierdie geleentheid.
AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.
Die jaarlikse Tinteltong Toekennings, wat innoverende Afrikaanse ondernemings vereer, sluit ook ondernemings in wat deel is van plaaslike sakenetwerke. Hierdie toekennings erken die beste diens en produkte, met wenners wat bepaal word deur stemme vanuit plaaslike netwerke en die publiek.
Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.