|

Pollie ons gaan Paarl toe! Solidariteit Beweging vat die pad met Afrikaans Amptelik 100-lettertoer

Klankgreep: Carien Bloem (Afrikaans)

’n Reis van 1 400 km, met nege reuseletters wat die woord “Afrikaans” uitspel, deur vier provinsies en één doel – om Afrikaans te vier! Dít wag die volgende paar dae op ’n span van die Solidariteit Beweging, waaronder AfriForum en Solidariteit, wanneer ’n vragmotor Donderdagoggend vroeg vanaf die Sol-Tech-kampus in Centurion vertrek en die langpad vir die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer aandurf. Hul eindbestemming is die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl waar die amptelike feestelikhede ter viering van 100 jaar van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei sal afskop.

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer sal Donderdag en Vrydag (1 en 2 Mei) op sy pad uit die noorde by vier bestemmings aandoen waartydens inwoners, vakansiegangers en alle belangstellendes hul verjaarsdagwense vir Afrikaans kan kom aflewer én dié reusekunswerk kan besigtig.

Die nege letters staan elk sowat 2 m hoog en het ’n gesamentlike gewig van nagenoeg 720 kg. ’n Letter is aan die Afrikaans Amptelik 100-oorsigkomitee sowel as agt instellings van die Solidariteit Beweging toegeken en elkeen is die afgelope week met unieke ontwerpe, eie aan die onderskeie instellings, versier. Elkeen van hierdie instellings maak in hul veld ’n belangrike bydrae tot die groei en voortbestaan van Afrikaans en beeld hul ywer vir die taal op ’n kunstige wyse uit op hierdie reuseletters. Dié instellings is AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sol-Tech, Akademia, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Helpende Hand.

Volgens Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum en projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer, sal die kunswerk vir die duur van die Afrikaans Amptelik 100-feesvieringe, wat van 8 tot 11 Mei plaasvind, op uitstalling wees by die Afrikaanse Taalmonument. Daarna sal dit weer na die noorde van die land geneem word om – net betyds vir die noordelike been van die fees wat vanaf 22 Mei in Pretoria gehou word – ’n meer permanente staanplek in die skadu van die Voortrekkermonument te kry.

“Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer toon op ’n simboliese wyse dat Afrikaans behoort aan almal wat haar in die uithoeke van ons mooi land praat, sing, skryf, studeer, lees en waarlik lééf! Te midde van die uitdagings wat die taal ondervind, kan ons hierdie mylpaal in die kleurryke bestaan van Afrikaans met volle oorgawe vier,” sluit sy af.

Die publiek word uitgenooi om by dié stilhouplekke op die reis in te loer en te deel in die feestelike opbou van die Afrikaans Amptelik 100-feesvieringe.

Donderdag 1 Mei

Vrydag 2 Mei

Soortgelyke plasings