Planne om munisipaliteite se hope skuld aan waterrade af te skryf, kom nie sonder ’n prys nie
Die Departement van Water en Sanitasie het vandeesweek bekendgemaak dat sy gesprekke met die Nasionale Tesourie om munisipale skuld aan waterrade af te skryf, reeds in gevorderde stadium is. AfriForum is egter van mening dat die voorgestelde plan nie die oplossing is om die nie-betalingskultuur binne munisipaliteite op te los nie. AfriForum doen ’n beroep op munisipaliteite om eerder hul huis in orde kry, anders moet amptenare persoonlik aanspreeklik gehou word vir hul munisipaliteite se agterstallige skuld aan waterrade.
Die huidige voorstel behels dat – indien die verkose munisipaliteite een derde van hul ou skuld pligsgetrou oor drie jaar afbetaal en huidige rekeninge op datum betaal – kan die res van hul historiese skuld afgeskryf word. Dit is egter onduidelik op watter kriteria die munisipaliteite gekies sal word.
“Hierdie plan gee aan amptenare, wat nie hul werk doen en die munisipaliteite se fondse spandeer soos wat van hulle verwag word nie, die geleentheid om aanspreeklikheid te ontduik. Betalende inwoners se geld is vir jare misbruik en eerder as om planne te beraam om hierdie skuldige amptenare verantwoordelik te hou, word daar planne beraam om hulle uit ’n verknorsing te kry – weereens ten koste van betalende inwoners,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
Teen Junie 2024 het die totale munisipale skuld aan waterrade R22,36 miljard beloop. Hierdie bedrag kon eerder aangewend word vir die agterstand op die instandhouding van Johannesburg Water se infrastruktuur, wat tans R27 miljard beloop. Die probleem is bloot nie net dat munisipaliteite nie rekeninge betaal nie, maar dat hulle totale beheer verloor het oor wat in hul gebiede aangaan. Munisipaliteite se watertoevoer is onbetroubaar en miljarde rande se water gaan verlore weens waterverliese. Verder beskik munisipaliteite ook oor geen administratiewe vermoë om iets basies soos rekeninge met korrekte lesings te lewer nie, daarom sukkel hulle om skuldinvordering te doen.
“Heelwat munisipaliteite het nie meer die vermoë en kundigheid om dienste te lewer en daarvoor betaal te word nie. Die moontlikheid dat die privaatsektor munisipale dienste in samewerking met staatsdepartemente moet begin lewer en bestuur, word al groter. Hierdie skuld-afskryf-meganisme beloon swak finansiële bestuur eerder as om dit heeltemal hok te slaan,” sluit De Klerk af.