|

Parkie in Upington soos ’n nuwe sikspens ná AfriForum se opknappings

Ná jare het ’n parkie in Middelpos, Upington, ’n nuwe baadjie danksy AfriForum se plaaslike tak wat daar ingevaar het. Die klimrame, rondomtalie, swaaie en die kragboks is afgeskuur en oorgeverf. Die paaltjies langs die park is ook afgeskuur en geel geverf sodat voertuie vir veiligheidsredes nie toegang tot die park het nie.

Die AfriForum-tak in Upington het op 20 Mei met die opknappings aan die parkie in Wildebeesstraat begin. Dit het hulle drie dae geneem om die park tot sy volle glorie te herstel.

AfriForum het ook gereël dat die park ’n nuwe glyplank kry en bedank Marko Sweiswerke, Albe van der Merwe en raadslid Henk Opperman wat dit moontlik gemaak het.

Daar word bykans elke naweek troufoto’s in die park se mooi tuin geneem met die wingerd as agtergrond. Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit het kom help om die bome te snoei, asook verouderde waterpype en kleppe herstel en vervang.

AfriForum se Upington-tak is tans besig om al die kragbokse in die dorp, wat vol graffiti is, groen te verf om Upington weer die spogdorp te maak wat dit eens was.

“Daar is jarelange inwoners op die dorp wat as kind goeie herinneringe by hierdie parkie gemaak het. Ons hoop dat vandag se jongmense en gesinne die parkie net so sal geniet, veral nou dat dit oorgedoen en meer toeganklik is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Soortgelyke plasings