|

Oorwinning: Man van Middelburg gevangenisstraf opgelê ná hy vrou doodry

Khumbulani Malinga is vandag effektiewelik vyf jaar gevangenisstraf opgelê in die Middelburgse Streekhof vir die dood van Lizel Visagie. Landdros Andreas Masteroudes het hom tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, maar drie jaar daarvan opgeskort vir vier jaar op die voorwaarde dat Malinga nie ’n soortgelyke misdryf in hierdie tydperk pleeg nie. Malinga se lisensie is ook vir 12 maande opgeskort.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Visagie se ma, Marie Hamman, in hierdie saak op. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik die saak teen Malinga teruggetrek het as gevolg van uitstaande bloedalkoholverslae en die privaatvervolgingseenheid skrywes aan die NVG en polisie gerig het oor die gebrek aan vervolging.

Malinga is in Oktober 2021 in die streekhof in Middelburg skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag. Hy het skuldig gepleit op hierdie klagte nadat hy in Maart 2019 vir Visagie doodgery het. Visagie het tydens die voorval haar dogter (wat toe minderjarig was) uit die pad van Malinga se motor gestamp terwyl hy besig was om vir die verkeerspolisie te vlug. Malinga het Visagie se been afgery en sy is onderweg na die hospitaal oorlede.

“Ons verwelkom dié vonnis, aangesien die familie geregtigheid verdien. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by hierdie saak betrokke geraak om toe te sien dat geregtigheid geskied en om te verseker dat diegene wat die wet oortree nie ongestraf bly nie. Ons hoop dat hierdie vonnis vir die oorledene se familie berusting sal bring,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings