|

Onwettige storting in Pretoria buite beheer – AfriForum bied volhoubare oplossing

Onwettige vullisstorting in Pretoria het ’n krisispunt bereik. Dít is volgens AfriForum die direkte gevolg van jare se swak beplanning, mislukte stadsbestuur en ’n gebrek aan politieke wil van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om daadwerklik op te tree.

Verskeie woongebiede oor die hele Pretoria heen ly onder onwettige vullisterreine, terwyl bestaande vullisterreine kritieke kapasiteitsvlakke bereik het. Volgens AfriForum se vullisterreinoudit vir 2024 het vullisterreine in die Tshwane-metro slegs vier jaar oor voordat dit nie meer gebruik kan word nie.

Terwyl die Tshwane-metro in die donker rondtas bied AfriForum deur middel van herwinningsprojekte en gemeenskapsinisiatiewe volhoubare en praktiese oplossings aan. Sodoende bied die organisasie onmiddellike verligting en ondersoek ook ander moontlikhede soos volhoubare privaat vullisverwydering as ’n langtermynoplossing.  

Voorts fokus AfriForum daarop om volhoubare vullisbestuurstelsels te skep, soos vennootskappe met privaat vullisterreine wat nie afhanklik is van munisipale infrastruktuur nie.

AfriForum het reeds grootskaalse, gemeenskapsgedrewe herwinningsprojekte in Centurion en Groenkloof gevestig en is aktief besig om hierdie inisiatiewe na ander gebiede uit te brei.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, lewer hierdie projekte onmiddellike resultate en skep dit ’n raamwerk vir toekomstige gemeenskapsgedrewe dienslewering, soos om fondse wat uit die herwinningsprojek gegenereer word aan te wend om moontlik ’n privaat vullisverwyderingsdiens te finansier.

“AfriForum het ook ’n uitgebreide opname gedoen van die ergste gevalle van onwettige storting in Pretoria. Hierdie opname, wat foto’s en geografiese liggings insluit, is aan die Tshwane-metro deurgegee om hulle taak te vergemaklik. Die voetwerk is dus vir die metro gedoen en hulle hoef eenvoudig net op te tree en die probleme op te los, ” voeg Hemmens by.

“AfriForum bewys dat dienslewering nie ondergeskik hoef te wees aan politieke onmag nie. Ons glo in oplossings, nie verskonings nie,” sluit Hemmens af.

Sluit hier aan by AfriForum se Pretoria-takke om saam ’n verskil te maak.

Soortgelyke plasings