|

Onwettige plakkers by Wolwespruit nou hervestig, dringende optrede egter elders steeds nodig

AfriForum verwelkom die suksesvolle hervestiging van onwettige plakkers wat vir jare die vleiland in Erasmuskloof, by Wolwespruit, beset het. Dit volg ná ’n die organisasie vroeër vanjaar ’n volledige verslag oor die impak van hierdie onwettige wonings by die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit ingehandig het.

Die besetting van hierdie area het ernstige probleme veroorsaak soos ’n toename in misdaad, kabeldiefstal en besoedeling, wat vererger is deur onwettige herwinning en storting. Dit het die omgewing byna onherstelbaar beskadig. Daar is egter nou reeds begin met pogings om hierdie gebied te rehabiliteer. Hoewel daar steeds onwettige plakkers buite die terrein in Nossobstraat en Solomon Mahlangu-rylaan kampeer het die Departement van Menslike Nedersettings onderneem om hulle ook binnekort te hervestig.

Elders in Pretoria is nuwe dringendheid egter nodig om onwettige storting en plakkery stop te sit. Rommelversamelaars het byvoorbeeld ’n oop stuk veld in Elarduspark, Pretoria-Oos, geoormerk vir ’n sportveld vir Laerskool Elarduspark, beset. Die laerskool het, luidens mediaberigte, tot onlangs toe nog die terrein by die metro gehuur.  Die skool het ook die terrein deurlopend skoon en in stand gehou, maar het die metro onlangs in kennis gestel dat dit sy huurooreenkoms gaan beëindig. AfriForum waarsku dat dié stap die terrein selfs verder sal blootlê vir onwettige plakkers en dat die metro se versuim om hier in te tree reeds ernstige gevolge vir die omliggende gemeenskap inhou.     

AfriForum het reeds vroeg in Junie twee briewe aan die metro gestuur waarin verskeie eise oor onwettige plakkers en storting in Pretoria aan die metro gestel is. Die burgerregteorganisasie het ook oplossings vir hierdie probleme voorgelê. Hierdie briewe volg ná jare se gebrek aan bestuur en optrede van die metro.

Die burgerregteorganisasie eis dat die metro dringend optree om die saak te beredder. Dit sluit onder meer in: onmiddellike skoonmaakaksies by stortingsterreine; gereelde patrollies by geïdentifiseerde terreine; regstappe teen herhaalde oortreders; en dringende munisipale inspeksie.

AfriForum dring ook daarop aan dat die metro stappe doen om te verseker dat die oprigting van onwettige strukture op munisipale terreine vasgevat moet word. AfriForum het ook duidelike voorstelle vir die voorkoming van die vestiging van onwettige informele nedersettings en onwettige stortingsterreine gemaak. Die organisasie stel voor dat gereelde buurtpatrollies en gemeenskapsmobilisering onderneem word en dat die proaktiewe gebruik van tegnologie en kommunikasie ingestel moet word om geïdentifiseerde gebiede te monitor en die verwydering van reeds bestaande onwettige stortingsterreine en informele nedersettings te bewerkstellig.

Daar is talle soortgelyke voorbeelde waar die uitkoms van die metro se blote gebrek aan optrede gelei het tot ernstige sosio-ekonomiese- en omgewingsuitdagings, soos in die geval van die Plastic View-nedersetting agter Moreleta Kerk in De Villebois Mareuil-rylaan. Hierdie nedersetting het aanvang gekry met die tydelike huisvesting van onwettige plakkers en het intussen uitgebrei tot ’n yslike informele nedersetting wat verskeie sosio-ekonomiese uitdagings vir inwoners van die omliggende omgewing inhou weens die metro se versuim om op te tree.

Hoewel die Tshwane-metro al voorheen ’n uitsettingsbevel bekom het om inwoners van die Plastic View-nedersetting te verskuif en op ’n nuwe terrein te hervestig, soos deur wetgewing bepaal word, het die inwoners geweier om te skuif. Die Tshwane-metro se stadige optrede om ’n uitsettingsbevel te bekom het tot gevolg dat teen die tyd wat ’n uitsettingsbevel vir een groep verkry is, daar al talle ander bygekom het waarvoor daar ook ’n uitsettingsbevel bekom moet word. Die proses begin dus deurlopend van voor af sonder om ’n gevolgtrekking te bereik.  

AfriForum hou vol dat die metro onnodige regskostes aangaan en vanweë hul sleepvoetbenadering met gevalle van dié aard finansiële vermorsing veroorsaak. Volgens die organisasie is dit kommerwekkend dat die metro steeds nie opgetree het nie ten spyte van volhoubare, werkbare oplossings wat deur AfriForum en ander uiteengesit is.

“Die kwessie van onwettige storting en plakkers moet uit die staanspoor aangepak word anders ly die omliggende gemeenskap jare lank vanweë die probleme wat dié onwettige aksies en vestiging veroorsaak,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord. “Die metro het alle hulp én hulpbronne tot hul beskikking om hierdie misdade te keer, maar hulle versuim om op te tree skep omstandighede waarin hierdie misdaad floreer.”

AfriForum bevestig opnuut sy verbintenis tot die beskerming van privaat eiendom en benadruk dat dit teen die Tshwane-metro sal standpunt inneem en optrede afdwing om die gemeenskap te beskerm.

AfriForum bedank ook graag die organisasies, ondernemings, raadslede en gemeenskapslede wat saam gewerk het om ’n oplossing te bekom.

Soortgelyke plasings