#OnsDorp: AfriForum en ander werk saam om woonbuurt nuwe baadjie te gee
AfriForum se Klerksdorp-tak het in Desember saam met die Doringkruin-buurtwag gewerk en ’n grootskaalse buurtvernuwingsprojek van stapel gestuur as deel van AfriForum se nasionale #OnsDorp-veldtog. Hierdie projek het van 18 Desember 2025 tot 21 Januarie 2026 geduur.
Tot dusver het hierdie span ’n area van meer as 47 000 m2 , byna so groot soos sewe rugbyvelde, skoongemaak. Dit sluit in die sny van gras langs Murantiweg, sowel as die volledige rehabilitasie van Karee- en Tambotiepark. Benewens die grassnywerk, is indringer-doringbome verwyder en bome langs die pad netjies gesnoei om die buurt se estetiese waarde te verhoog.
Hierdie projek is moontlik gemaak deur ’n vennootskap tussen die AfriForum-tak, Doringkruin-buurtwag en die plaaslike gemeenskap. Die totale koste vir die huidige fase beloop R 14 835,00. Hierdie fondse word direk aangewend vir die bedryfskoste van die projek, insluitend brandstof, olie, toerustingonderhoud en vergoeding vir die mense wat die fisiese arbeid verrig.
Die volhoubaarheid van hierdie inisiatief rus egter op die skouers van elke inwoner. Om die werkspan permanent te onderhou en te verseker dat Klerksdorp se parke en strate nie weer agteruitgaan nie, is die gemeenskap se aktiewe deelname nodig. “Ons moedig elke inwoner van Doringkruin aan om hande te vat met hierdie werkspan. Hetsy met ’n finansiële bydrae of deur self moue op te rol en betrokke te raak. Elke bietjie help om te verseker dat ons dorp ’n plek bly waar ons met trots kan woon,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Inwoners wat bydraes wil lewer of meer inligting verlang oor hoe om die werkspan te ondersteun, kan vir Frans Roos kontak by 0833788826.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir Alta Pretorius by 081 392 2071.








