Onreg teen leerders ná departement se agterstallige kragrekening Ekurhuleni-skole in duister laat
AfriForum het ’n dringende beroep op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gedoen om sy onregmatige optrede te laat staan en nie nóg onderwysinstellings se kragtoevoer af te sny weens die wanbetaling van provinsiale staatsdepartemente nie. Dit kom nadat sommige skole se elektrisiteit Donderdag (12 Junie) sonder waarskuwing afgesny is.
Verskeie skole in Ekurhuleni was onkant gevang toe amptenare gister opgedaag het om hul kragtoevoer af te sny. Dié amptenare het ’n kennisgewing, gerig aan die Gautengse Departement van Infrastruktuur en Ontwikkeling/Onderwys, aan die skole oorhandig, waarin aanvoer dat dié departemente meer as R200 miljoen aan die metro verskuldig is.
Een van die skole wat met AfriForum kontak gemaak het oor die voorval se munisipale rekening is egter nie agterstallig nie.
“Om kragtoevoer by ’n skool af te sny wie se munisipale rekening ten volle betaal is, gebaseer uitsluitlik op die breër agterstallige skuld van ’n provinsiale departement, is nie net prosedureel en wesenlik onregmatig nie, maar ook erg ontwrigtend en ’n skending van leerders se reg op onderwys,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
“AfriForum is van mening dat die metro skole as ’n sagte teiken gebruik om hul verordeninge op diegene af te dwing wat werklik skuldig is.”
Hoewel die betrokke skole se kragtoevoer intussen reeds herstel is, beskou AfriForum hierdie optrede as ’n ooglopende magsvergryp. Kragonderbrekings by skole het nie net ’n negatiewe impak op leerders se reg op onderwys nie, maar inhibeer ook personeel se vermoë om hul pligte uit te voer.
’n Formele brief is aan die Ekurhuleni-munisipaliteit gestuur waarin AfriForum dit duidelik stel waaraan die metro homself skuldig gemaak het. AfriForum het ook versoek dat daar rekenskap gegee word vir dié optrede. Die burgerregteorganisasie gaan verder met die betrokke provinsiale departemente in gesprek tree om toe te sien dat geskille tussen staatsentiteite nie die regte van leerders beïnvloed nie.
AfriForum sal voortgaan om op te tree in die belang van leerders, ouers, onderwysers en die breër gemeenskap.