NVG weier steeds om nolle prosequi-sertifikaat uit te reik vir privaat vervolging van Jiba
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan adv. Shamila Batohi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV), aangevoer dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se volgehoue weiering om Nomgcobo Jiba, voormalige NVG-hoof, vir bedrog en meineed te vervolg of privaat vervolging moontlik te maak deur die uitreik van ’n nolle prosequi-sertifikaat, irrasioneel is.
Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dui hierdie irrasionele optrede, óf op die politieke beskerming van sekere individue met bande binne die NVG, óf op die onbekwaamheid van die vervolgingsgesag om ’n eenvoudige saak soos hierdie te vervolg.
Die privaatvervolgingseenheid het in April 2021 vir Batohi ingelig dat sy AfriForum met geen ander keuse laat nie as om ’n mandamus-aansoek te bring ten einde die NVG te dwing om uitvoering te gee aan ’n hofbevel* wat bepaal dat Jiba op hierdie klagtes vervolg moet word. Die NDOV se reaksie was dat die saak na die Ondersoek Direktoraat (OD) verwys is en dat die vervolging van Jiba nie kan voortgaan nie alvorens die OD die “breër kwessies” van die saak verstaan en dat hierdie kwessies eers gefinaliseer moet word voordat ’n besluit oor die vervolging van Jiba geneem kan word.
“Dit is nou reeds 11 maande later en die NVG se volgehoue standpunt dat ’n mandamus-aansoek om hulle te dwing om ’n besluit te neem oor die vervolging van Jiba, al dan nie, voortydig sou wees, het alle geloofwaardigheid verloor. Dit blyk dat die NVG besig is om die samelewing aan ’n lyntjie te hou en geregtigheid te ondermyn met die hoop dat die saak teen Jiba stil-stil sal verdwyn. Die NVG probeer oënskynlik om dít te bereik deur middel van onredelike vertragings en oppervlakkige antwoorde op enige navrae oor die kwessie. Ons sal egter nie toelaat dat hierdie klagtes net verdwyn nie,” sê adv. Nel.
*Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het reeds in 2015 in Freedom Under Law v NDPP beveel dat die saak teen Jiba weer op die rol geplaas moet word.