|

NVG beweer Oos-Kaapse premier word steeds vir korrupsie ondersoek

Ten spyte van die Oos-Kaapse Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) se besluit om nie die premier van dié provinsie, Oscar Mabuyane, te vervolg nie, beweer die hoof van die Nasionale Vervolgingsdiens (NVG) dat die saak heropen is en na die polisie terugverwys is vir verdere ondersoek. AfriForum se privaatvervolgingseenheid twyfel egter of daar waarheid hierin steek en het aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, adv, Shamila Batohi, gesê dat dit blyk nog ’n poging te wees om ’n politikus teen vervolging te beskerm.

Die privaatvervolgingseenheid is gevra om te oorweeg om Mabuyane en ander staatsamptenare in ’n saak van korrupsie wat miljoene rande beloop privaat te vervolg ná die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie te vervolg nie. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Lonwabo Bam, die sakeman aan die kern van ’n korrupsieskandaal wie self fondse verkwis het wat onwettig in sy maatskappy se rekening inbetaal is. Die saak hou onder meer verband met vervoerreëlings vir die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela.

Adv. Sibongile Mzinyathi het op 22 Julie 2025 in ’n skrywe aan die hoof van die NVG gesê dat ’n adviespaneel tekortkominge geïdentifiseer het en die ondersoekspan opdrag gegee het om verder ondersoek in te stel ná die DOV van die Oos-Kaap besluit het om nie die saak te vervolg nie. Die vervolgingsgesag wag steeds vir terugvoer hieroor en die DOV sal ’n besluit moet maak alvorens ’n hersieningsproses gevolg kan word.

In ’n skrywe aan Batohi sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat dit tydens die konsultasies met Bam duidelik geword het dat daar geen kommunikasie tussen die ondersoekspan en die NVG was rakende “verder ondersoek”  sedert die nolle prosequi-besluit op 7 November 2023 gemaak is nie. Volgens Nel is die verskoning dat die vervolging steeds op terugvoer van die ondersoekspan wag net nog ’n aanduiding  dat hierdie ’n duidelike poging is om ’n versuim om te vervolg te verbloem.

Nel het verder versoek dat Batohi moet vasstel wanneer die “verdere ondersoek” aangevra is en dat indien dit nou, ná die privaatvervolgingseenheid se vertoë , eers gedoen word dit ’n poging is om ’n behoorlike ontleding van die feite te voorkom. Die huidige reaksie van die DOV dui volgens Nel op ’n oorhaastige besluit gebaseer op ’n onvolledige ondersoek. Die privaatvervolgingseenheid meen dat die “verskeie gesprekke” tussen die vervolging en die ondersoekspan eers ná die brief van AfriForum se privaatvervolgingseenheid af plaasgevind het.

Volgens Nel beaam die privaatvervolgingseenheid Bam se siening dat die Oos-Kaapse DOV nie gewillig is om politici te vervolg nie en dat die besluit om die saak weer terug te verwys net verdere vertragings veroorsaak en die verdagtes verder bevoordeel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om met die owerhede te skakel om te verseker dat hierdie ongekompliseerde saak ter rolle geplaas word en vervolg word.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik