|

Noord van die Berg-buurtwag jaag rowers die skrik op die lyf

AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag laat hulle nie van stryk bring deur misdadigers nie. Dié buurtwag het verlede week in twee onderskeie voorvalle rowers verhoed om verdere skade aan te rig.

Die mees onlangse voorval het Donderdag (24 Julie) in die vroeë oggendure plaasgevind toe een van die buurtwaglede ná hul patrollie by die huis aangekom het. Hy het beweging gehoor by sy buurman en by verdere ondersoek gesien hoe vier mans probeer om toegang tot die erf te verkry. Die buurtwaglid het sy flits op hulle geskyn waarna hulle gevlug het.

Saterdagoggend (19 Julie) om 03:00 het AfriForum se Noord van die Berg-buurtspan saam met BBS Sekuriteit en die Atteridgeville SAPD reageer op ’n noodroep nadat ’n gesin reeds vir ’n uur lank in hul huis in Vierdelaan in Pretoria-Noord aangehou is. ’n Lid van die gesin het op ’n Whatsapp-groep alarm gemaak waarna die onderskeie veiligheidstrukture reageer het.

Die rowers is omkant gevang en het op die vlug geslaan met gesteelde goedere soos televisies, luidsprekers en verskeie ander items. Daar was agt gewapende verdagtes wat te voet gevlug het. Die SAPD se K9-eenheid het verskeie spore op verskillende plekke opgetel wat daarop dui dat die groep waarskynlik in kleiner groepe verdeel het in ’n poging om nie vasgetrek te word nie. Die K9-eenheid het die spore gevolg tot teenaan die R80 waar die spoor verdwyn het. Dit blyk dat die verdagtes hier weer bymekaar gekom het, in ’n voertuig geklim het en só verder gevlug het. Die soektog is teen 05:30 beëindig en ongelukkig is geen arrestasies gemaak nie. Die gesteelde items wat die rowers in die hardloop laat val het, is egter aan die gesin terugbesorg.

Die gesinslede het geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Ons is dankbaar dat albei hierdie voorvalle nie in tragedie ontaard het nie. Dít is juis waarom dit so belangrik is dat plaaslike veiligheidstrukture op ’n georganiseerde wyse met mekaar moet saamwerk om misdaad te bekamp,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

Die buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by plaaslike veiligheidsinisiatiewe en saam te werk om ’n veiliger omgewing te skep. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit en sodoende ’n verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings