Noord-Kaapse vullisterreine hou risiko’s vir mense en omgewing
AfriForum doen ’n beroep op die Hantam-, Kamiesberg- en Karoo Hoogland-munisipaliteite om dringend in te gryp by hul onderskeie vullisterreine. Die vullisterreine in Williston, Calvinia, Nieuwoudtvill, Kamieskroon en Garies is in ’n haglike toestand wat op die ou end wesenlike risiko’s vir die gemeenskap se gesondheid en die omgewing inhou.
AfriForum is veral bekommerd oor die feit dat van die dorpe se boorgate naby aan die vullisterreine geleë is wat die risiko vir kontaminasie verhoog en kan lei tot ernstige gesondheidsprobleme vir die gemeenskap.
Daarbenewens is die vullisterreine ook nie behoorlik omhein nie wat toegangsbeheer bemoeilik en veroorsaak dat vullis wegwaai. Voorts is daar ook nie watervoorsiening by die vullisterreine nie.
Die ander probleme by die vullisterreine is onder meer die volgende:
- Die vullisterreine word nie behoorlik onderhou nie;
- daar is ’n tekort aan vullisverwyderingsvoertuie en stootskrapers;
- mense stort vullis in oop velde omdat die vullisterreine nie behoorlik funksioneer nie en die paaie ontoegangbaar is; en
- dierekarkasse en motorbande word ook op die vullisterreine gestort wat gesondheidsrisiko’s inhou.
“Die vullisterreine het tydens ons vullisterreinoudits in Februarie nie meer as 10% behaal nie. Dit is iets waaroor die munisipaliteite hulle behoort te skaam. Ons het ook die Groen Skerpioene ingelig oor hierdie vullisterreine en die briewe wat ons aan die onderskeie munisipaliteite gestuur het,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Volgens Strauss het AfriForum ook al op verskeie geleenthede aangebied om saam met die munisipaliteite te werk om oplossings vir die vullisterreine te kry, maar die munisipaliteite blyk nie bereid te wees om oplossings te vind nie.
Die munisipaliteite het tot 16 April om met ’n aksieplan te reageer op die skrywes.