Noord-Kaapse dorpe stort vullis in Oranjerivier weens vervalle vullisterreine
AfriForum doen ’n beroep op munisipaliteite in die Noord-Kaap om die vullisterreine in Kimberley, Upington, Prieska, Kamieskroon, Williston en Springbok op te gradeer omdat vullis tans in die Oranjerivier gestort word. Hierdie eens pragtige dorpe is besig om in vullisterreine te ontaard. AfriForum is tans in gesprekke oor die haglike omstandighede van vullisterreine met die betrokke munisipaliteite, wat die Namakwa Distriksmunisipaliteit, die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit, die Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit en die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit insluit.
AfriForum het die afgelope maand besoek afgelê by hierdie vullisterreine vir die organisasie se jaarlikse vullisterreinoudit. Elke jaar oudit AfriForum vullisterreine as deel van sy nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
By die Nood-Kaap-vullisterreine ontbreek heinings om die terreine en daar is ook geen beheer oor wat daar gestort word nie. Daar word van diere se karkasse tot bande in die vullisterreine gestort. Op elke vullisterrein is daar ook mense wat daar bly en vure aansteek, wat ’n gevaar inhou vir hierdie droogte geteisterde gebied. In Prieska is die vullisverwyderingsvragmotor onpadwaardig.
Die meeste van die dorpe ter sprake is langs die Oranjerivier geleë. Tydens AfriForum se besoek aan die rivier in Prieska, het ’n munisipale werknemer laat hoor dat die Siyathemba-munisipaliteit hom opdrag gegee het om die rou vullis in die Oranjerivier te stort. Hierdie storting is baie nadelig vir die natuur en die plante en visse in die rivier. Die vullis vloei met die rivierstroom na die ander dorpe langs die rivier en beland uiteindelik in die see.
In Springbok is daar skape, beeste en varke wat in die vullisterrein wei. AfriForum se Springbok-tak het al met die Namakwa-munisipaliteit hande gevat om die vullisterrein op te knap. Die tak het ’n kompakteerder gehuur wat die vullis uit die pad gestoot en op vragmotors gelaai het om dit op die regte plek op die vullisterrein te gaan stort. Dit was egter net ’n tydelike oplossing en vandag is die vullisterrein weer in ’n haglike toestand.
In teenstelling, het Upington se vullisterrein die afgelope jaar ’n nuwe baadjie aangetrek met die aankoop van nuwe kompakteerders, die aanstelling van veiligheidswagte wat toegangsbeheer toepas en ’n nuwe heining om die vullisterrein. Daar is nog heelwat probleme hier wat aandag moet geniet maar tot dusver is daar positiewe verandering as gevolg van die druk wat AfriForum op die Dawid Kruiper-munisipaliteit toegepas het.
“Die vullisterreine op al die dorpe ter sprake het ook geen afvoerkanale of aksieplanne indien daar ’n noodgeval is nie. Daar sal dringend by die vervalle vullisterreine ingetree moet word om verdere skade aan die natuur te voorkom. AfriForum sal daadwerklike druk toepas en met die munisipaliteite, wat wel ’n verskil in die Noord-Kaap wil maak deur die vullisterreine reg te ruk, saamwerk,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.