Ngwathe draf om hofuitspraak te appelleer, terwyl dorpenaars voortsukkel
AfriForum se regspan het op 26 Junie ’n kennisgewing van opponering beteken in reaksie op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kennisgewing van verlof tot appèl. Die Ngwathe-munisipaliteit gaan regter J.P. Daffue se uitspraak van minstens 10 dae gelede – dat die munisipaliteit dringende ingryping benodig – appelleer.
Die volgende stap nou is dat die regter die saak vir argument moet plaas. Die regter sal dan beslis of ’n ander hof tot ’n ander beslissing sal kom. Indien nie, herleef die bevel wat aan AfriForum toegestaan is. Indien die appèlaansoek slaag, bly die bevel opgeskort totdat die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl aangehoor word. In daardie geval sal AfriForum met hul regspan konsulteer om ander opsies te oorweeg.
AfriForum het op 20 Junie ’n deurslaggewende oorwinning in die Hooggeregshof in Bloemfontein behaal toe Daffue bevind het dat die Ngwathe-munisipaliteit nie meer aan sy grondwetlike, wetlike én administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners voldoen nie. Die hof het gevolglik die ontbinding van die munisipale raad beveel en die Vrystaatse provinsiale regering opdrag gegee om onmiddellik in te gryp.
Hierdie uitspraak volg ná jare van verwaarlosing, onbevoegdheid en verval, waartydens inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort sonder betroubare dienslewering gelaat is – insluitend ernstige watertekorte, rou riool wat in strate vloei, vervalle infrastruktuur en ’n wanorde van miljoene rande in die begroting.
Volgens die hof moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet ’n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom, die Ngwathe-munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel en elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering.
Die Ngwathe-munisipaliteit, tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die Vrystaatse premier, is ook verantwoordelik vir AfriForum se regskoste.
“Dit is jammer dat Ngwathe nie so vinnig is met dienslewering nie, of ten minste om die leuens wat die burgemeester so kwistig op die televisie kwytgeraak het, te bewaarheid maak nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier. “Die inwoners van Parys het ’n besonder uitdagende week gehad in terme van krag- en wateronderbrekings in hierdie bittere koue. Ons wil ’n beroep op inwoners doen om voort te gaan om enige diensleweringsprobleme op die organisasie Save Ngwathe se platforms te rapporteer, want dit is van onskatbare waarde,” sê Pretorius.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, kan die inwoners verseker daarvan wees dat AfriForum nie sal opgee nie en sal aanhou met die stryd teen die Ngwathe-munisipaliteit. Die munisipaliteit sal met valkoë dopgehou word. “Ons sal die toedrag van sake aan ons advokaat deurgee sodat hulle nie leuens kan vertel nie. Ons bedank ook almal wat ons ondersteun. Rapporteer asb. die probleme sodat ons ten volle bewus van alles kan wees,” sluit Burger af.
AfriForum versoek die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk aan die heropbou van verantwoordbare plaaslike regering. Die hofuitspraak is ’n mylpaal in AfriForum se breër veldtog teen plaaslike regeringsverval in Suid-Afrika. Om by AfriForum se Parys-tak aan te sluit, kontak Burger by 082 653 4281.