|

Net een uit elke vyf vullisterreine voldoen aan basiese standaarde, toon AfriForum-studie

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)

AfriForum se 2025-vullisterreinoudit wat vandag vrygestel is, toon dat slegs 22% van vullisterreine in die land – oftewel net sowat een uit elke vyf terreine – aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Uit die 169 terreine wat landwyd geoudit is, het 131 nie eens aan die mees basiese vereistes voldoen wat bedoel is om gemeenskappe en die omgewing teen besoedeling te beskerm nie.

Die ouditresultate toon dat Gauteng en die Wes-Kaap die enigste twee provinsies is waar die meerderheid vullisterreine aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen en derhalwe die oudit geslaag het. Gauteng bly vir die tweede agtereenvolgende jaar die beste presteerder, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 84%, terwyl die Wes-Kaap 66% behaal het. Die meeste vullisterreine wat die oudit geslaag het (19 uit die 38 terreine) is wel in die Wes-Kaap gesetel.

Die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap se vullisterreine is steeds in ’n haglike toestand, met meer as 90% van hierdie terreine wat nie die oudit geslaag het nie. Die Noord-Kaap het die laagste gemiddelde nakomingspunt van slegs 13% aangeteken.

Die nasionale gemiddelde nakomingspunt het effens gestyg tot 42% in 2025 – vier persentasiepunte hoër as verlede jaar en die hoogste in die afgelope vyf jaar – maar AfriForum waarsku dat hierdie marginale verbetering nie die feit kan verbloem dat byna vier uit elke vyf vullisterreine in Suid-Afrika nie aan basiese vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.

Algemene probleme by die terreine wat die oudit gedruip het, sluit in gebreekte weegbrûe, ’n gebrek aan toegangsbeheer en sekuriteit én die storting van skadelike vullis weens vragte vullis wat nie na behore ondersoek word nie. ’n Algehele gebrek aan kompaktering en bedekking van vullis is ook algemeen op hierdie terreine, asook die voorkoms van brande, afwesige personeel en die teenwoordigheid van informele herwinnaars wat in onveilige toestande sonder beskermende toerusting of munisipale registrasie op vullisterreine werksaam is.

“Munisipaliteite is veronderstel om gemeenskappe teen besoedeling te beskerm, maar die meeste stortingsterreine is wetteloos en gevaarlik. Met slegs 22% van terreine wat hierdie oudit slaag, is dit duidelik dat die meerderheid munisipaliteite nie in staat óf bereid is om hierdie basiese funksie van dienslewering te verrig nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum sal die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte  pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind.

“Die enigste volhoubare manier om aan gemeenskappe se behoefte vir verantwoordelike vullisbestuur te voldoen, is om nouer samewerking tussen munisipaliteite en gemeenskappe te bewerkstellig. As gevolg van munisipaliteite se voortgesette gebrek aan behoorlike dienslewering, word individue met geen ander keuse gelaat as om alternatiewe op die been te bring om gemeenskapselfstandigheid te bewerkstellig nie,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf