|

’n Plan op papier is nie skoon water in inwoners se krane nie – AfriForum eis bewyse vir Ngwathe-munisipaliteit se 86%-aanspraak

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)
Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)

AfriForum dring by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aan op die bekendmaking van dokumentasie wat dié munisipaliteit se bewerings – dat dit ’n 86%-nakomingspunt vir sy Waterdienste-ontwikkelingsplan (WSDP) behaal het – te staaf. Luidens ’n mediaverklaring wat die munisipaliteit vroeër vandag (4 September) uitgereik het, het die munisipaliteit met dié nakomingspunt die beste in die land gevaar. AfriForum hou egter vol dat dié bewerings en punt nie die werklikheid van die gehalte van water en die betroubaarheid van watervoorsiening in dié munisipaliteit reflekteer nie.

Die organisasie versoek die munisipaliteit daarom om teen aanstaande Vrydag (11 September) inligting oor die WSDP te verskaf. AfriForum eis inligting oor die beoordeelde WSDP, die datum waarop die WSDP gefinaliseer en aanvaar is; die volledige oudit- of assesseringsverslag waarin die nakomingspunt vervat is; die metodologie, telkaart en kriteria waarvolgens die punt bereken is; en die raadsbesluit of ander formele rekord waardeur die WSDP aanvaar is.

Die munisipaliteit moet ook verduidelik of die 86% bloot op beplanning en verslagdoening betrekking het, en of dit werklike uitvoering en voldoening aan statutêre water- en sanitasiestandaarde meet.

AfriForum waarsku dat ’n hoë punt vir ’n beplanningsdokument nie noodwendig beteken dat inwoners skoon water ontvang, watervoorsiening betroubaar is, infrastruktuur funksioneer of beplande projekte uitgevoer word nie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is ’n plan op papier nie dieselfde as skoon water wat uit inwoners se krane vloei nie. “Die munisipaliteit se geskiedenis van langdurige wateronderbrekings, besoedelde drinkwater en gebrekkige infrastruktuur wys duidelik dat daar ’n groot verskil tussen beplanning en uitvoering kan wees,” benadruk sy.

AfriForum se twyfel in die betroubaarheid van die munisipaliteit se aankondiging word versterk deur die munisipaliteit se eie finale hersiene geïntegreerde ontwikkelingsplan vir 2026/2027. Dié dokument, wat in  Junie vanjaar gepubliseer is, dui volgens AfriForum se bestudering daarvan aan dat die WSDP nog nie gereed was nie en steeds in konsepvorm was.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het boonop bevind dat sekere gebiede binne die Ngwathe-munisipaliteit nie elke dag water ontvang nie. In Parys kon die munisipaliteit volgens dié bevinding slegs sowat 6 megaliter water per dag lewer, teenoor ’n daaglikse behoefte van tussen 18 en 22 megaliter. Munisipale watervoorsiening deur tenkwaens en JoJo-tenks was ook ongereeld en onbetroubaar.

AfriForum se onafhanklike laboratoriumtoetse het al herhaaldelik gewys op die teenwoordigheid van fekale koliforme bakterieë in Parys se kraanwater. Die water het nie aan die nasionale standaard vir drinkwater voldoen nie en was nie geskik vir menslike gebruik nie. Inwoners in al die dorpe wat onder dié munisipaliteit val, het boonop in die afgelope weke steeds gebuk gegaan onder wateronderbrekings en vrae oor watergehalte.

“Die munisipaliteit kan nie ’n nakomingspersentasie gebruik om die ware stand van sake in Parys en ander Ngwathe-dorpe te verdoesel nie. Inwoners beoordeel dienslewering nie aan kleurvolle planne en persentasies nie, maar aan die water wat wel – of nié – uit hul krane kom,” sê Pretorius.

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, meen AfriForum sal enige werklike verbetering verwelkom, maar waarsku dat openbare aansprake deursigtig en verifieerbaar moet wees, en in die regte konteks geplaas moet word. “Totdat die nodige dokumente bekendgemaak en die plan se resultate in die praktyk sigbaar is, bly selfprysing voortydig. Die inwoners kan beslis nie 86% gee vir dit wat uit hul krane kom nie – dit is nou as daar hoegenaamd iets uitkom.”

Burger het dr. F.P. Mothamaha, die munisipale bestuurder, uitgenooi om ’n glas water uit ’n kraan in Parys te drink en self die gehalte van water in dié munisipaliteit op die proef te stel.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger (082 653 4281) om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik