Munisipaliteit kyk anderpad terwyl onwettige vullisstorting in Bethlehem toeneem
AfriForum het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) op 24 Maart in ’n brief versoek om druk op die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit toe te pas om die onwettige vullisstorting in Bethlehem te takel. Die munisipaliteit druk sy kop in die sand as die gemeenskap oor die onwettige vullisstorting kla, terwyl AfriForum se versoeke aan die munisipaliteit om die vullis te verwyder, op dowe ore geval het.
AfriForum het al op 24 Februarie en toe weer op 11 Maart briewe aan die Dihlabeng-munisipaliteit gestuur met die versoek om die toenemende vullisprobleem in die sakekern op te los. Ten spyte van hierdie versoeke, het die munisipaliteit geen aksie geneem om die vullis op die hoeke van verskeie strate te verwyder nie. Die vullis word selfs op sommige plekke gesorteer en aan die brand gesteek, wat onder inwoners die indruk wek dat onwettige vullisstorting maar toegelaat word.
AfriForum het op 11 Maart ook bewyse en inligting aan die munisipaliteit verskaf oor ’n gemeenskapslid wat weekliks doelbewus vullis in woongebiede stort. Daar is versoek dat streng stappe teen die individu geneem word, aangesien onwettige vullisstorting ’n kriminele oortreding is. Tot op hede het die Dihlabeng-munisipaliteit geen poging aangewend om die vullis wat sedert Desember 2024 ophoop, te verwyder of om die betrokke individu aanspreeklik te hou nie.
“AfriForum sal nie toelaat dat die munisipaliteit se onvermoë om basiese dienslewering te verseker ons gemeenskap negatief beïnvloed nie. Ons sal self optree om ’n voorbeeld te stel en te verseker dat ons omgewing skoon en leefbaar bly,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Indien AfriForum genoop word om self die vullis wat onwettig gestort word te verwyder, sal die organisasie die koste daarvan van die Dihlabeng-munisipaliteit verhaal.
