|

Mpumalanga-hoërskoolleerders kook by provinsiale uitdunronde van Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie

AfriForum se Dink of Sink-span het op 30 Julie die vierde van ses provinsiale uitdunrondes vir Mpumalanga se hoërskooldebatteerders by die Hoërskool Nelspruit aangebied. Vanjaar is daar ook ’n  kategorie vir laerskole bygevoeg waar graad 6- en 7-leerders teen mekaar debatteer. Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir laer- en hoërskoolleerders gee belowende jong debatteerders die kans om hul vaardighede op die proef te stel.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.

Altesaam 69  leerders van twee laerskole en drie hoërskole in Mpumalanga het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Lydenburg, Hoërskool Ermelo, Laerskool Laeveld en Laerskool Nelspruit. Gedurende die dag het die 23 spanne elk drie debatte oor verskeie aktuele onderwerpe in hul verwysingsraamwerk gevoer.

“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend te debatteer duidelik na vore gebring,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.

In die laerskole kategorie (graad 6 en 7) het Laerskool Nelspruit (span 1) se Imke Fleming, Henrike Bekker en Eben Smit gewen, terwyl Laerskool Nelspruit (span 2) se Alia Leeuweer, Lea Alberts en Luca Buys die naaswenners was.

In die junior kategorie (graad 8 en 9) het Hoërskool Nelspruit (span 1) se Jeani Willemse, Leandri Pretorius en Miané van Niekerk koning gekraai, terwyl Hoërskool Nelspruit (span 3) se Elané Janse van Rensburg, Christiaan Boshoff en Louis van der Walt as die naaswenners aangekondig is.

In die senior kategorie (graad 10, 11 en 12) het Hoërskool Nelspruit (span 1) se Kirsten Lea, De la Rey Radley en Nina Prinsloo die goue trofee huis toe geneem terwyl Hoërskool Nelspruit (span 2) se Ian Macdonald, Ude van Veenhuyzen en Marné Pretorius die naaswenners was.

“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings