Mosel-buurtwag maak Wilhelminaplein skoon
AfriForum se Mosel-buurtwag in Kariega (voorheen Uitenhage) het tussen 4 en 6 April ’n skoonmaakprojek aangepak waartydens die Wilhelminaplein, op die hoek van Moselweg en Ruddlestraat, skoongemaak is.
Die Wilhelminaplein is in 1948 geopen deur die destydse burgermeester, mnr M.G. Currie, as ’n eerbewys aan Koningin Wilhelmina van Nederland se goue jubilee. Menigte inwoners van Kariega koester wonderlike herinneringe uit hul kinderdae van piekniek in hierdie park, troufoto’s wat daar geneem is en natuurlik groot rugby- en krieketwedstryde deur die kinders van die buurt in die park. Maar soos met alle ander parke in Kariega, het die tekort aan dienslewering daartoe gelei dat die park in ’n seeroog verander met lang gras en drankbottels en vuil doeke wat daar rondlê.
AfriForum se Uitenhage-tak het die buurtwag van twee splinternuwe bossiekappers, asook ’n petrolaangedrewe saag en blaser, vir die groot taak voorsien waartydens meer as 200 vullissakke se gras, leë bottels en ander vullis uit die park verwyder is.
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap, het hierdie projek oor baie meer gegaan as net die skoonmaak van ’n parkie. Dit was net die eerste stap gewees om die gemeenskap weer bymekaar te bring en trots in die woonbuurt te skep. In hierdie opsig, is daar alreeds wonderlike suksesse tydens die skoonmaakproses behaal. Verskeie mense het die werkspan van koeldrank en eetgoed voorsien, terwyl ander op hul voertuie se toeter gedruk het soos hulle verbygery het. AfriForum het ook talle boodskappe van dank ontvang. Die volgende stap is om nuwe lewe aan die banke in die park te gee, om die speelterrein vir die kinders te vernuwe en om vullisdromme daar aan te bring.
Verskeie ondernemings het ook met AfriForum hande gevat om te help waaronder Amandla Bafazi, wat ’n vragmotor met werkers beskikbaar gestel het om vullis weg te ry, Haggies, wat water en werkers voorsien het, en OK Mosel, wat swartsakke en koeldrank voorsien het. Siya Sihgaa, ’n plaaslike tuindienste, het met drie werkers en bossiekappers opgedaag, wat gehelp het om die werk in ’n japtrap te voltooi.
Die Mosel-buurtwag beplan nog baie skoonmaakprojekte in die Mosel-gebied maar wil veral fokus plaas op die Wilhelminaplein met die doel om hierdie park in die toekoms aan te neem. AfriForum wil ’n veilige en netjiese omgewing vir die gemeenskap skep waar hulle met hul kinders kan uitspan.
“Daar is ’n aansienlike groot verskil in inwoners se gemoed wanneer die parke onderhou word omdat dit hulle veiliger laat voel. Met misdadigers wat nie in die skoon en netjiese parke kan skuil nie, neem misdaad af en haweloses vind ’n ander plek om te slaap. As ’n inwoner van Uitenhage lê hierdie projek ná aan my hart en ek sal aanhou help om ons buurt te verbeter,” sê Melissa de Jongh, projekleier van AfriForum se Uitenhage-tak.
Die tak nooi belangstellendes uit om deel te neem aan hierdie belangrike inisiatief. “Saam kan ons die skoon parke waardeer en ’n positiewe impak op ons gemeenskap maak. Die deelname en samewerking van die gemeenskap is onontbeerlik om hierdie doelwit te bereik,” sluit Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir Oos Kaap, af.
Vir meer inligting en om betrokke te raak by toekomstige projekte en aktiwiteite, word belangstellendes aangemoedig om by AfriForum se Rustenburg-tak aan te sluit. Kontak Minette van der Vyver by 083 6855 815 vir verdere besonderhede.

