|

Minister van Polisie skuld Bergview College-hoof en die publiek ’n verskoning – strafregtelike gevolge wag

Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het vir ’n week lank handegevou gesit terwyl lasterlike en valse uitlatings in die media en op sosialemediaplatforms teenoor die hoof van Bergview College, Jaco Pieterse, gemaak is. Dié uitlatings is vererger deur ’n mediaverklaring uit Mchunu se kantoor waarin hy self valse bewerings gemaak het oor die ondersoek na die verkragting van ’n leerder van Bergview College. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Pieterse in hierdie saak en sal hom nou verder adviseer om te verseker dat diegene wat hierdie valse bewerings herhaal het strafregtelik verantwoordbaar gehou word. Pieterse is in die openbaar uitmekaar geruk as gevolg van ’n fiktiewe bewering dat hy die polisie se ondersoek na die verkragting belemmer het.

Mchunu het die outoriteit en nodige kennis oor die saak gehad om die misverstand reg te stel, maar hy het gekies om stil te bly. Hy skuld Pieterse en die publiek ’n verskoning.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in ’n brief aan die Ministerie van Polisie en die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gesê dat dit nooit toelaatbaar moet wees dat ’n onskuldige persoon deur rusbankspeurders op sosiale media asook deur prominente persone vir hul eie politieke gewin skuldig bevind kan word nie. Hierdie optrede het die verantwoordelikheid van diegene met die outoriteit om wette toe te pas oorskadu. Nel voeg by dat dit onmoontlik is om teen die harwar van ongegronde bewerings en oningeligte aantygings op te staan as diegene met die mag om die saak reg te stel swyg.

Die persone wat identifiseer is om vervolg te word vir hierdie lasterlike bewerings is onder ander Mchunu self, Fikile Mbalula in sy rol as sekretaris-generaal van die ANC, Fundile Gade in sy rol as LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap en Julius Malema, leier van die EFF. As die Nasionale Vervolgingsgesag nie hierdie individue wil vervolg nie sal die privaatvervolgingseenheid voortgaan met private vervolgings.

Die privaatvervolgingseenheid het op Saterdag, 29 Maart, ’n mediaverklaring vrygestel waarin hy dit duidelik gemaak het dat Pieterse nie ’n verdagte in die verkragtingsaak is nie en dat die polisie hom ook nie as ’n verdagte beskou nie. Etlike ure later het Mchunu ’n mediaverklaring vrygestel waarin hy verkeerdelik gesê het dat drie individue, waaronder die hoof, as verdagtes identifiseer is. Hy het voorts gesê dat alle uitstaande verklarings deur die ondersoekbeampte verkry is en dat DNS-toetse ook gedoen is.

Dit is nou bekend dat Mchunu verkeerd was, maar dit blyk polities onverteerbaar te wees vir die minister om te erken. Dit het Mchunu ses dae geneem voordat hy ’n flou poging aangewend het om toe te gee dat hy valslik beweer het dat Pieterse ’n verdagte was. Selfs toe het hy nie toegegee dat hy die publiek mislei het nie, dit het aanleiding gegee tot ’n daaropvolgende mediaverklaring in reaksie op die openbare bewerings dat hy gejok het oor Pieterse se DNS-monster.

Eers op Maandag, 7 April, het brig. Athlenda Mathe, woordvoerder vir die SAPD, op die radiostasie 702 onomwonde gestel dat die hoof nooit as ’n persoon van belang in hierdie saak identifiseer is nie. Sy het verwys na verklarings van ooggetuies wat bevestig het dat die hoof nie naby die toneel was in die drie of vier dae waarop die SAPD fokus nie. Mathe het ook bevestig dat daar nie gronde was om ’n bukkale monster (wangmonster) van Pieterse te vra nie aangesien daar geen onbekende DNS gevind was vir vergelyking nie.

Volgens Nel het die SAPD se versuim om die saak reg te stel tot ongekende skade aan die hoof en die skoolgemeenskap gelei. “Die polisie het ’n grondwetlike plig om misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek. Die polisie moet ook openbare orde handhaaf en die publiek beskerm. Die SAPD en die Ministerie van Polisie het in beide hierdie verpligtinge misluk. Hierdie mislukking en die bydraende disinformasie-veldtog deur minstens die minister van Polisie het ’n onskuldige man se lewe op sy kop gedraai en hom blootgestel aan ’n onverdiende, lewensgevaarlike openbare beproewing. Bergview College, sy personeel, die leerders en hul ouers het onbedoelde slagoffers geword van ’n smeerveldtog wat heeltemal vermy kon word.”

“Ons pogings om te verseker dat daar gevolge is vir diegene wat vir politieke gewin lasterlike opmerkings maak met die bedoeling om onskuldige mense te beswadder sal nie taan nie,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings