Minister se stilswye oor Krugerwildtuin-mynbouaansoek ondermyn openbare vertroue
Dr Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, se stilswye ná AfriForum verlede maand ’n amptelike standpunt van dié departement aangevra het oor Tenbosch Mining se twyfelagtige aansoek vir die oprigting van ’n steenkoolmyn aan die buitewyke van die Krugerwildtuin, dui daarop dat hy nie die belange van die wildtuin – of dié van wildtuinliefhebbers – op die hart dra nie. AfriForum hou vol dat George se verdere versuim om aan die organisasie se versoek vir ’n formele ondersoek na die ongerymdhede in die mynbouaansoek gehoor te gee, dit duidelik maak dat hy en sy departement nie die omgewingswetgewing wat daar gestel is om onherroeplike skade aan beskermde gebiede te verhoed, na behore ag nie.
In ’n brief, wat AfriForum op 15 April aan die departement gestuur het, is ernstige kommer uitgespreek oor die omgewingsimpakstudie wat verband hou met Tenbosch Mining se voorgestelde steenkoolmyn naby die suide van die Krugerwildtuin. AfriForum het die departement en Sanparke in die brief versoek om ’n openbare verklaring oor hul standpunt aangaande die Tenbosch-mynbouaansoek uit te reik; om ’n formele ondersoek na die prosedurele mislukkings in die omgewingsimpakstudie te doen; en ’n vergadering met die minister aangevra om toenemende kommer oor omgewingsbestuur te bespreek. AfriForum wag al meer as ’n jaar vir ’n vergadering met die minister. Die minister het tot 5 Mei gehad om op hierdie brief te reageer. Tot op hede het AfriForum slegs ’n erkenning van ontvangs gekry – geen formele reaksie, geen aksieplan en geen aanduiding van enige voorneme om die bekommernisse te takel nie.
AfriForum het voorheen gewaarsku dat Kimopax, wat deur Tenbosch Mining as omgewingskonsultante aangestel is, se omgewingsimpakstudie fundamenteel gebrekkig is. Kwessies sluit in die uitsluiting van belanghebbende en geaffekteerde partye, ’n gebrekkige openbaredeelnameproses en ’n onvoldoende assessering van omgewingsrisiko’s, wat alles in stryd is met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.
“Die afwesigheid van enige betekenisvolle betrokkenheid van die minister en sy departement is onaanvaarbaar. Wanneer ernstige prosedurele en wetlike oortredings in ’n omgewingsimpakstudie eenvoudig geïgnoreer word, dui dit op ’n gebrek aan belangstelling en dat die departement nie daartoe verbind is om Suid-Afrika se omgewingswette te handhaaf nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
“Dit is nie net administratiewe oorsigfout nie – dit is ’n mislukking in leierskap. Is dit nie die departement se fokus dat die omgewing in openbare vertroue vir die mense gehou word nie, die voordelige gebruik van omgewingshulpbronne die openbare belang moet dien en die omgewing as die mense se gemeenskaplike erfenis beskerm moet word? Die voortgesette stilswye van die minister weerspieël ’n kommerwekkende gebrek aan dringendheid en belangstelling om bedreigings vir sommige van die land se waardevolste ekologiese bates hok te slaan.”
Indien die regering versuim om op te tree, is AfriForum bereid om elke wettige weg te ondersoek om verantwoordbaarheid te verseker.
“Ons natuurlike erfenis kan nie opgeoffer word weens politieke traagheid of administratiewe nalatigheid nie. Waar is die minister se hart vir die natuur? As wildtuinliefhebbers nie eers op die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing kan staatmaak om die Krugerwildtuin te bewaar nie, laat dit AfriForum met geen ander keuse as om self in te gryp nie,” sluit De Klerk af.