|

Minister se leë beloftes weerklink in Gautengse metro’s se versuim om AfriForum se vrae oor watervermorsing te antwoord

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite (Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane) het versuim om terugvoer te gee op AfriForum se formele aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) om feite oor dié metro’s se hoë waterverbruik te verkry. Dít terwyl die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, onlangs weer in die parlement gesê het dat die regering alles in sy vermoë doen om ’n waterkrisis af te weer en gewaarsku het dat Gauteng se inwoners met verdere waterbeperkings gestraf sal word indien hierdie munisipaliteite se waterverbruik nie dringend afneem nie.

AfriForum het op 13 Maart PAIA aansoeke by elk van Gauteng se drie metro’s ingedien om lig te werp op die ware omvang van waterverbruik en vermorsing in dié metro’s. Volgens wet moes die metro’s se inligtingsbeamptes binne 30 dae (voor of op 14 April) óf terugvoer op AfriForum se versoek voorsien het, óf redes verskaf het waarom ’n verdere tydperk van 30 dae benodig word om die aansoek te verwerk. By gebrek hieraan word dit outomaties beskou as ’n erkende weiering van die aansoek.  

In teenstelling met die doelwit van PAIA – om deursigtigheid en aanspreeklikheid in openbare instellings te bevorder – wek die metro’s se versuim om antwoorde te voorsien juis meer agterdog oor die erns waarmee die waterkrisis getakel word. AfriForum hou vol dat hoë waterverbruik in Gauteng nie noodwendig voor die deur van inwoners gelê kan word nie en dat uitermatige hoë verbruik waarskynlik spruit uit vermorsing weens swak munisipale instandhouding van die waternetwerke.

“Die minister se uitlatings oor Gauteng se hoë gemiddelde waterverbruik is misleidend, omdat dit gebaseer is op die volumes wat aan die metro’s voorsien word,” verduidelik Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Dit is net een kant van die vergelyking. Dit is nie te sê dat die metro’s se inwoners, besighede en nywerhede tans meer water as voorheen gebruik nie.”  

Volgens die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se jongste inligting, het die metro’s se waterverbruik teen die einde van Februarie die hoeveelheid water wat deur Rand Water aan hulle toegeken word met sowat 16% oorskry. Sleutel tot hierdie hoë verbruik is die fisiese waterverliese as gevolg van lekkasies en diefstal wat in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni onderskeidelik op 36.8%, 32.5% en 27.9% staan – ver bo die teiken van

15%. Wat verdere kommer wek, is dat daar ’n groeiende gaping is tussen die hoeveelheid waterlekke wat maand-tot-maand in Johannesburg en Tshwane gerapporteer word en die hoeveelheid wat herstel word.

“Die enigste afleiding oor Gauteng se waterverbuik wat met sekerheid gemaak kan word, is dat bykans ’n derde van die water wat deur die metro’s van Rand Water aangekoop word en in die metro’s se stelsels ingevoer word, verlore gaan. Daarom is waterbeperkings op hierdie tydstip eenvoudig nie die regte middel tot die doel om waterverbruik te verminder nie. Alles moontlik behoort in die stryd gewerp te word om fisiese waterverliese hok te slaan,” meen De Vaal. “Gegewe die metro’s se versuim om inligting oor hul waterverbruik aan AfriForum te voorsien, word ’n sterk vermoede geskep dat die metro’s tot dusver nie die krisis met erns en dringendheid hanteer nie,” sluit De Vaal af.  

AfriForum gaan nou ’n interne appèl teen elk van die metro’s se weiering van die aansoeke aanteken. Indien die appèl slaag en die inligting wat daardeur bekendgemaak word AfriForum se vermoede bevestig dat die grondoorsake van Gauteng se waterkrisis nie doeltreffend deur die metro’s opgelos word nie, sal die organisasie regstappe teen die betrokke metro’s oorweeg om hulle te dwing om die herstel van waterlekkasies en verwydering van onwettige aansluitings te prioritiseer.

Soortgelyke plasings